Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Myn grawe sloot vir flaminke
Water vloei van die Homevale-rioolaanleg na die Kamfersdam buite Kimberley, voordat dit in die riete wegsak. Foto: Christiaan Cloete

'n Produktiewe vergadering is Woensdag in Kimberley gehou waarin al die rolspelers oor die toekoms van die kleinflaminke op die Kamfersdam-pan, en van die sowat 1 000 oorlewende kuikens wat aan die einde van Januarie van die pan af gered is, besin het.

Lesego Pule, Noord-Kaapse woordvoerder van die department van natuurbewaring en omgewingsake, sê 'n gesamentlike verklaring met besonderhede word Donderdag uitgereik.

"Die vergadering wat deur verskeie rolspelers en internasionale kenners bygewoon is, was baie produktief. Die grootste besprekingspunt was die toekoms van die sowat 5 300 kuikens op die pan. Die kommer is nie die gebrek aan water nie, maar 'n gebrek aan die blougroen alge waaraan hulle vreet. Ons het besin wat ons te doen staan indien die kuikens deur die broeipare verwerp word."

Intussen het werkers van ’n mynmaatskappy Woensdag begin om ’n afvoersloot teenaan die Homevale-rioolaanleg in Kimberley na die Kamfersdam te grawe in ’n poging om meer gesuiwerde rioolwater direk na die kleinflaminke op die pan te herlei.

’n Afvoersloot word gegrawe in ’n poging om meer water wat deur die Homevale-rioolaanleg vrygestel word, na die verdorde Kamfersdam buite Kimberley te herlei. Foto: Christiaan Cloete

Die myn help die munisipaliteit ook om ’n oorhoofse elektriese kabel by ’n rioolpomp elders in die stad in werking te stel.

Luidens ’n verklaring van Birdlife South Africa is die Kamfersdam besig om op te droog, wat die voortbestaan van die alge wat die flaminke vreet, bedreig.

Die kuikens is gered nadat die pan weens droogte en ’n tekort aan gesuiwerde rioolwater begin opdroog het. Hoewel reën in Februarie uitgesak het, was dit nie genoeg om die pan vol te hou nie.

Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die Ekapa-myn grawe die afvoersloot om die gesuiwerde water wat buite die aanleg in riete verdwyn, na die pan te herlei.

Die werk sal twee dae duur.

“Die riete, hoewel dit water suiwer, absorbeer te veel water. Dit is verkieslik dat meer water direk na die pan vloei, eerder as in die riete.

“Ekapa help ook om ’n oorhoofse elektriese kabel by die Goga-pomp in Galeshewe in diens te stel. Vandale het al etlike kere ons ondergrondse kabel gesteel.

’n Deel van die meer as 5 000 flaminkkuikens waaroor kommer bestaan omdat die Kamfersdam opdroog.Foto: Brian Culver

“Die pomp was dus buite werking en kon nie rioolwater van Galeshewe na die rioolaanleg pomp nie. Indien die kragtoevoer herstel word, sal die water wat nou na Platfontein vloei, eerder na die rioolaanleg gepomp word.

“Intussen werk ons hard om die riooltoevoerpyp wat gebreek het, teen die middel van die jaar te herstel. Wanneer dit in gebruik geneem word, sal al die rioolwater van Galeshewe na die aanleg vloei om verwerk te word.

“Van die gesuiwerde water word aan die myn verkoop, en die res vloei na die Kamfersdam.”

Matsie sê die idee om drinkwater van die Riverton-onttrekkingsgaanleg aan die Vaalrivier na die Kamfersdam te pomp, is onvolhoubaar.

“Dit is baie duur om water van die Vaalrivier na die stad te pomp. Ons sukkel reeds om die opgaardamme vir menslike gebruik vol te hou. Ons kan onmoontlik drinkwater na die flaminke pomp.”

Hy sê die enigste oplossing vir die flaminke se voortbestaan is dat die Homevale-aanleg soveel as moontlik gesuiwerde water na die Kamfersdam pomp.

Jahn Hohne, uitvoerende hoof van die Ekapa-myn, wou nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Kimberley  |  Kamfersdam  |  Flaminke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.