Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Myn van fosfaat in see bekommer bewaringsgroepe

Omgewingsorganisasies is “diep bekommerd” omdat die departement van minerale bronne 10% van Suid-Afrika se Eksklusiewe Ekonomiese Gebied (EEG) in die see vir die myn van fosfaat geoormerk het.

Die departement van minerale bronne het Woensdag bevestig lisensies vir die prospektering van fosfaat is reeds aan drie maatskappye, Green Flash Trading 251 en 257, asook Diamond Fields International, toegeken.

Die gebied beslaan 150 000 vierkante kilometer in die Wes- en Suid-Kaapse EEG.

Dit oorvleuel in ’n groot mate met maatskappye wat bodemvis vang.

Volgens Saul Roux van die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) het ’n koalisie van nieregeringsorganisasies, Safeguard our Seabed Coalition (SOSC), op 30 Julie 2015 ’n beroep op die departement van minerale bronne gedoen om ’n moratorium te plaas op planne vir fosfaatmynbou in die oseaan omdat daar “ernstige gapings is in wetgewing en institusionele raamwerke van die regering”.

“Dit beteken fosfaatmynbou in die oseaan sal ongereguleerd wees. Geen behoorlike monitering sal dus kan plaasvind nie.”

Volgens SOSC sal fosfaatmynbou oneindige skade aan die mariene lewe en die seebodem veroorsaak.

As die maatskappy besluit om wel met die proses voort te gaan, sal hy sy voorneme in koerante adverteer en ’n behoorlike omgewingsimpakstudie vir die gebied doen, sê Van der Spuy.
Saul Roux

Roux sê die departement van minerale bronne het nog nie op die koalisie se versoek vir ’n moratorium gereageer nie.

Volgens Sybrand van der Spuy, van die Kanadese mynmaatskappy Diamond Fields International, het dié maatskappy besluit om vir eers handdoek in te gooi omdat die eksplorasieproses “baie duur is”.

Volgens hom sal die gebied wat aan dié maatskappy toeken is, binne die volgende 20 jaar wel gemyn word, omdat fosfaat onontbeerlik is vir die vervaardiging van kunsmis.

As die maatskappy besluit om wel met die proses voort te gaan, sal hy sy voorneme in koerante adverteer en ’n behoorlike omgewingsimpakstudie vir die gebied doen, sê Van der Spuy.

Ons groot bekommernis is ook nie soseer die eksplorasie-aktiwiteite nie maar die soort mynbou wat hierop gaan volg.

Wynand Venter van Green Flash Trading het Woensdag gesê Suid-Afrikaners “kan maar ontspan” omdat sy maatskappy aan die gebied wes van die Weskus onttrek het omdat die fosfaat in dié deel van die EEG nie ekonomies ontginbaar is nie.

Roux sê egter Suid-Afrikaners kan glad nie ontspan nie omdat enige ander maatskappy enige dag weer permitte kan ontvang.

“Ons groot bekommernis is ook nie soseer die eksplorasie-aktiwiteite nie maar die soort mynbou wat hierop gaan volg.”

Die departement van minerale bronne het by navraag gesê al die maatskappye wat prospekteerlisensies gekry het, het vergaderings met belanghebbendes gehou voordat hulle hul omgewingsbestuursplanne by die departement ingedien het.

Die bewaringsorganisasie Conservation Action Trust sê fosfaatmynbou in die seebodem pas beslis in by die regering se groter plan, Operasie Phakisa, waarmee hy die sogenaamde “ekonomie van die see” wil ontsluit.

Meer oor:  See  |  Omgewing  |  Operasie Phakisa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.