Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Myn wat uitbrei, sal meer werk as plase skep’

Die New Vaal-steenkoolmyn buite Vereeniging gaan met sowat 34 400 ha uitgebrei word.

Mike Teke, uitvoerende hoof van Seriti Coal en nuwe eienaar van die myn, het pas goedkeuring vir die uitbreiding gekry.

Die mynbase meen hulle sal meer werk vir die plaaslike gemeenskappe skep as wat landboubedrywighede tans doen.

Die myn sal steenkool onder sowat 88 bees- en mielieplase en dele van plase uithaal en dit hoofsaaklik aan die Grootvlei-kragstasie voorsien.

Luidens die omgewingsdokumente wat Golder Associates Africa­ opgestel het, sal die nuwe steenkoolmyn van die ou Coalbrook-myn naby Sasolburg tot by Deneysville aan die oewer van die Vaaldam strek.

Die myngebied sluit verskeie spruite, vleie, en die provinsiale pad, die R716, in.

Seriti het die prospekteerregte enkele jare gelede oorgekoop van Anglo Coal, wat die New Vaal Colliery besit het.

Luidens die omgewingsimpakstudie is daar 15 soogdierspesies, waaronder jakkalse en duikers, op die grond getel, asook 301 voëlspesies. Onder hierdie voëlspesies is die erg bedreigde sekretarisvoël.

Hidrologiese studies wys daar is verskeie spruite en vleie op die grond en dat die ondergrondse mynbedrywighede dit kan laat opdroog.

Die mynbedrywighede gaan ook ’n invloed op die watervlak van die Vaaldam, die Vaalrivier en die Taaibosspruit hê.

Die Taaibosspruit, ’n sytak van die Vaalrivier, vloei van suid na noord deur die westelike deel van die voorgestelde myngebied.

Ondersoekers wat erfenisstudies op die myn se grond gedoen het, sê ’n monument vir die 437 mense wat in die Coalbrook-ramp op 21 Januarie 1960 dood is, is op die myn se grond aangetref. Dit moet sover moontlik bewaar word.

Volgens studies oor die ekonomiese voordele wat die myn vir die streek inhou, sal die myn tot in 2054 in bedryf wees en jaarliks tot 3 miljoen ton steenkool lewer. Sowat 450 permanente werkers sal glo in diens geneem kan word wanneer die myn in volle produksie is. Die mynbase meen hulle sal meer werk vir die plaaslike gemeenskappe skep as wat landboubedrywighede tans doen.

Omgewingskundiges sê daar is verskeie klein beskermde en bewaarde gebiede in en om die myngebied. Dit is onder meer die Vaaldam-natuurreservaat, die Rietgat-wildreservaat, die Leeuspruit- private natuurreservaat en die Sasolburg- private natuurreservaat.

Volgens die sosio-ekonomiese impakstudie sal die mynbedrywighede inwoners van Vaal-park, Sasolburg, Vanderbijl-park, Vereeniging, Refenkgotso en Deneysville, wat sensitief is vir lugbesoedeling, negatief raak.

Luidens die dokumente vorm Refengkgotso die noordoostelike grens van die voorgestelde myngebied. Die dorpie Deneysville aan die oewer van die Vaaldam sal sowat 3 km van die myngebied wees en vorm die oostelike grens.

Die myn het glo R65 miljoen opsy­ gesit vir die rehabilitasie van die grond.

Luidens die departement van minerale bronne se goedkeuringsbrief moet belanghebbendes wat teen die uitbreiding van die myn gekant is, voor 3 Mei by die departement van omgewingsake, bosbou en visserye appèl aanteken.

Beswaardes kan e-pos aan dr. M. Rakgogo, waarnemende direkteur vir appèlaansoeke, stuur.

Sy e-posadres is appeals@environment.gov.za.

’n Kopie van die appèl moet gestuur word aan Carol-Ann.Mocke@seritiza.com.

Meer oor:  New Vaal-Steenkoolmyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.