Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Myngroep: AfriForum se bewerings ‘geheel en al vals’

Ivanhoe, ’n Kanadese myngroep, het woedend na AfriForum en adv. Gerrie Nel teruggekap nadat hy Maandag aangekondig het dat hy met ’n privaat vervolging teen dié myngroep se Suid-Afrikaanse filiaal, Ivanplats, in Mokopane begin.

AfriForum het aangekondig hy gaan sowel sy teenkorrupsie- as sy private vervolgingseenheid onder leiding van Nel inspan om die Ndebele Vaaltyn-stam, wat ’n jare lange stryd teen Ivanplats buite Mokopane voer, nou te hanteer.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private ondersoekeenheid, en Aubrey Langa (regs), gemeenskapsleier, met ’n besoek aan die omgewing waar Ivanplats se mynboubedrywighede is. Foto: Afriforum

Luidens AfriForum se verklaring het die Ndebele Vaaltyn-stam reeds in 2014 strafregtelike klagte teen Ivanplats van die miljardêrmynmagnaat Robert Friedland aanhangig gemaak, maar dit wil voorkom asof die saak nie vorder nie.

AfriForum sê die strafregtelike klagte hou verband met beweerde onwettige mynbedrywighede, die oortreding van omgewingswetgewing en die oënskynlike “oneerbiedige hervestiging” van die stam se geskiedkundige voorvadergrafte. AfriForum het die gebied Dinsdag besoek. “Die besoek aan die operasionale gebied, sal deel vorm van die bevestiging van die klagte,” sê AfriForum.

Ivanhoe het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê Ivanplats skep “duisende werkgeleenthede” in die omgewing van Mokopane en kom al die toepaslike wette na. Boonop beteken Ivanplats se projek ’n ekonomiese inspuiting van R25 miljard in die plaaslike ekonomie.

Volgens Ivanhoe bevat AfriForum se verklaring valshede en ongegronde bewerings. Dieselfde soort onwaarhede is glo al in die verlede oor Ivanplats se platinummyn in Mokopane gemaak. Dit het daarop neergekom dat Ivanhoe telkens die waarheid aan sy aandeelhouers en die internasionale gemeenskap moet verduidelik.

Die bewerings wat AfriForum en Nel, sy regsverteenwoordiger, teen Ivanplats maak, is “geheel en al vals.

“Ivanhoe verwerp die bewerings en vind dit betreurenswaardig dat AfriForum en Nel een van die gemeenskapslede, ene Aubrey Langa, se aantygings ernstig opneem.”

Die stam het ook in April 2014 ’n klagte by die openbare beskermer ingedien. Dít het op niks uitgeloop nie.

Volgens AfriForum het die stam hulle in Maart verlede jaar genader omdat hulle bespeur het Ivanplats kry moontlik onregverdige beskerming van staatsamptenare. “Ons oorweeg ’n privaat vervolging om gelykheid voor die reg te verseker en sodat regsoewereiniteit kan seëvier,” het Nel, hoof van die private vervolgingseenheid, gesê.

Ivanhoe het op sy beurt gesê Ivanplats het “te alle tye” alle regsaspekte met betrekking tot die prospektering, ontwikkeling en konstruksie van sy Platreef-myn nagekom. Ivanhoe het ook “die nodige toestemming gekry om sekere van die grafte te skuif en het uitgebreide ooreenkomste met families van die oorledenes gesluit”.

Ivanhoe het AfriForum en Nel daarvan beskuldig dat hulle nou die staat se hulpbronne mors met hierdie “aanhoudende bewerings wat al telkens in die verlede verkeerd bewys is”.

Volgens Ivanhoe sal dié myngroep nie toelaat dat ’n “klein groepie” (soos AfriForum en Nel) hom gyselaar hou terwyl die myn oorweldigende steun van die res van die gemeenskap het nie.

Nel het gesê sy eenheid sal ook ondersoek instel na beweerde onwettige springstofbedrywighede. Dié bewerings behels dat die bedrywighede binne 500 m van die gemeenskap plaasvind, wat aanleiding gee tot strukturele skade aan huise en rusverstoring.

Die stam het ook in April 2014 ’n klagte by die openbare beskermer ingedien. Dít het op niks uitgeloop nie. Mosebenzi Zwane, destydse minister van minerale bronne, het ook die gebied besoek, maar kon ook nie die beweerde voortslepende onwettige mynbedrywighede stop nie, het Nel gesê.

Meer oor:  Afriforum  |  Mokopane  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.