SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Omgewing
‘ ’n Ramp eerder as ’n oorwinning’

Total se ontdekking van ’n gaskondensaat aan die Suid-Kaapse kus is ’n ramp vir die omgewing eerder as ’n oorwinning wat gevier moet word.

So het Melita Steele, bestuurder van Greenpeace Africa se eenheid vir klimaat en energie, Maandag gesê.

Steele bestempel Total se eksplorasie in die diepsee, sowat 175 km van Mosselbaai, as onverantwoordelik.

Total se boortoring in die Brulpad-da-gasveld.

Sy sê die volgehoue verbranding van fossielbrandstowwe, soos olie en gas, is vernietigend vir die klimaat en is die direkte oorsaak van katastrofiese aardverhitting wat nie net spesies laat uitsterf nie, maar ook ander natuurrampe, soos droogtes en vloede, tot gevolg het.

Sy sê volgens Nasa was 2018 die vierde warmste jaar sedert boekhouding van temperature in die middel van die 19de eeu begin het.

Dit is een van die redes waarom maatskappye en regerings moet sorg dat fossielbrandstowwe in die grond bly.

“ ’n Boordery vir olie en gas in die diepsee is vol risiko’s en hou geweldig negatiewe gevolge vir veral seelewe en die seebodem in,” sê sy.

Total se Brulpadda-projek is deel van oudpres. Jacob Zuma se Operasie Phakisa, wat hy in 2014 aangekondig het, volgens Steele.

Verskeie maatskappye, onder meer Sasol, die Italiaanse oliereus ENI, die Amerikaanse ExxonMobil, Anadarko, die Noorse Statoil en verskeie ander internasionale maatskappye het reeds eksplorasieblokke reg om die Suid-Afrikaanse kus ontvang om na olie en gas te soek.

Steele het haar teleurstelling daaroor uitgespreek dat pres. Cyril Ramaphosa Total in sy staatsrede verlede Donderdag geloof het vir sy ontdekking van die gaskondensaat.

Volgens Steele is sy nie bewus van enige omgewingsimpakstudie wat Total in dié verband onderneem het nie.

Total het nie Maandag op navrae gereageer nie.

Navrae aan die departement van omgewingsake oor wie verantwoordelik is vir die goedkeuring van impakstudies, is na die departement van minerale bronne verwys.

Ayanda Shezi, woordvoerder van die departement, sê enigiemand wat insae in Total se omgewingsimpakstudies wil hê moet die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik.

Steele sê in reaksie daarop dit is ongehoord dat omgewingsimpakstudies en goedkeuring vir sulke projekte nie in die openbare domein is nie.

“Dit is absoluut absurd dat die samelewing Paia moet gebruik om inligting oor bedrywighede in sy eie oseaan te kry.

“Rooi ligte behoort te flikker, want dit klink asof die regering nie dokumente met belanghebbendes wil deel nie,” meen Steele.

Meer oor:  Greenpeace Africa  |  Gas  |  Ramp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.