Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Navorsers wil klimaatsinvloed op walvisse verstaan

Hoe sal die verandering in die oseane weens klimaatsverandering die herstel van boggelrugwalvisse in die Suidelike Halfrond beïnvloed?

Dit is die onderwerp van internasionale navorsing wat vir die volgende ses jaar deur onder meer drie Suid-Afrikaanse universiteite ondersoek word.

Die projek is glo die eerste ter wêreld.

Luidens ’n verklaring van die Universiteit Stellenbosch (US), betrek die projek 25 navorsers van ses lande. Hulle wil modelle van die verspreiding van boggelrugwalvisse onder toekomstige klimaatsveranderingscenario’s skep en ondersoek hoe oseaanveranderinge die walvisse se populasiestatus en -bewaring beïnvloed.

Gedurende die vorige eeu is boggelrugwalvisbevolkings erg uitgedun deur moderne walvisjagpraktyke, met vangste van meer as 220 000 walvisse tussen 1904 en 1972. Voordat moderne walvisjagpraktyke ontstaan het, was daar ’n bevolking van sowat 140 000 boggelrugwalvisse.

In die Suidelike Halfrond onderneem boggelrugwalvisse hul jaarlikse migrasie vanaf hul somerweivelde in die Antarktiese streek na die warmer subtropiese waters van Afrika, Australië en Suid-Amerika in die winter. Foto: Ken Findlay

Sedert beskermingsmaatreëls in die 1960’s en 1970’s ingestel is, het sekere bevolkings se getalle begin herstel.

Tans is daar 73 132 boggelrugwalvisse in die databasis aangeteken.

Die program is in die lewe geroep deur prof. Alakendra Roychoudhury, ’n omgewingsgeochemikus in die departement aardwetenskappe by die US, in samewerking met prof. Brendan Mackey, direkteur van die Griffith Klimaatsveranderingsreaksieprogram by die Griffith-Universiteit in Australië.

Die navorsingspan sluit ook prof. Ken Findlay, ’n walvisdeskundige van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT), medeprof. Marcello Vichi, ’n oseanograaf van die Universiteit van Kaapstad (UK) en navorsers van vier navorsingsinstellings in Suid-Amerika in.

Luidens die verklaring is die begroting van die projek sowat R80 miljoen en die span bestaan uit 16 voltydse navorsers en sewe navorsingsgenote, asook 14 nagraadse studente. Daar is reeds vier Antarktiese reise voltooi.

Roychoudhury sê die Suidelike Yssee lê grootliks braak vir navorsers en daar is ’n dringende behoefte aan seisoenale, sowel as langtermynwaarnemings van hierdie wyd uitgestrekte oseaan.

As gevolg van wisselende koolstofdioksiedvlakke, ’n groot aandrywer van klimaatsverandering, verander die gedrag in die Suidelike Yssee ook.

Volgens Findlay van KSUT doen die projek baanbrekerswerk in die kombinering van historiese en meer onlangse langtermyndatastelle met toekomstige scenario’s in verskeie streke in die Suidelike Halfrond.

Die navorsingspan hoop om variasies in seisoenale toeloop en die verspreiding van walvisse te identifiseer en verbande te trek tussen hierdie waarnemings en die veranderinge in die oseanografie en biochemie wat oor dieselfde tydperk in die Suidelike Yssee plaasvind.

Vichi sê die kombinasies van hierdie verskillende datastelle is ’n kragtige hulpmiddel om die verandering in die verspreiding van die walvisse te verstaan, maar dit sal ook as ’n bevestiging van klimaatsmodelle dien.

Dr. Olaf Meynecke, ’n walvisnavorser van Griffith Universiteit, sê walvisse se rol as ekosisteem-ingenieurs het oor die afgelope tien jaar baie duidelik geraak.

“Onlangse navorsings toon dat tandlose walvisse ’n wesenlike rol speel om die boonste 80 m van die oseaan te herbemes - die fotiese sone waar ligdeurdringing primêre produktiwiteit dryf. Walvisse dien ook as hersirkuleerders deurdat hulle die ystermikronutriënte tot die boonste gedeelte van die oseaan beperk, aangesien hulle van die ysterryke Antarktiese planktonkrefies leef.”

Die navorsingspanne van Brasilië, Chili, Ecuador en Panama sal ondersoek instel na die gedetailleerde beweging van die boggelrugwalvisbevolking aan die Suid-Amerikaanse weskus.

Dié program sal by Griffith-Universiteit gehuisves word.

Die boggelrugwalvismigrasiemodelle en relevante projekinligting sal beskikbaar wees by: www.whalesandclimate.org.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.