Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Navorsing verkeerd’ oor net een olifant in Knysna-bos

Die olifantkenner en bewaringskundige Gareth Patterson glo dat Sanparke se navorsing wat wys dat daar net ’n enkele olifant in die Knysna-bos oor is, verkeerd is.

Sanparke het Woensdag sy navorsing bekend gemaak dat tekens van net een olifant in die Knysna-bos met behulp van sy kamerastrikke gevind is. Die “laaste oorblywende” olifant is ’n koei van sowat 45 jaar oud wat waarskynlik nog nooit ’n kalf gehad het nie.

Die olifantkoei wat Sanparke sê die laaste olifant in die Knysna-bos is. Foto: Sanparke

Patterson het Donderdag op sy Facebook-blad onder meer geskryf hy het reeds meer as ’n jaar gelede van dié resultate geweet, maar hy was nie toe, of nou, daaroor bekommerd nie omdat dit na sy mening verkeerd is.

Hy het by navraag oor sy Facebook-inskrywing gesê dit is wat hy glo reg is. Luidens die inskrywing beweeg wetenskaplikes ook weg van die tipe sensus wat in hierdie geval gebruik is, omdat dit onakkuraat kan wees.

Volgens hom het sy baie jare se veldwerk oor dié spesifieke olifante gewys dat hulle hulself van die spreekwoordelike afgrond af teruggebring het en hy verwys dan na sy boek The Secret Elephants.

Hy sê hy het ook ’n DNS-sensus uitgevoer. Die eerste, in 2007, se uitslag het gedui op vyf betreklik jong volwasse olifante. Die tweede sensus van 2009 het dieselfde gewys, sowel as ’n sesde olifant wat die eerste keer misgekyk is. Nog veldwerk het gedui op die teenwoordigheid van drie bulle, asook kalfies.

Die DNS-toetse tersyde, dui die eenvoudige meting van die agtervoet se omvang (en die meting van die omvang van misbolle) ook olifante se ouderdom aan. Honderde sulke metings die afgelope jare het gewys daar is olifante van verskillende ouderdomme, van jong kalfies tot groot bulle, in die bos. Hy sê olifante kan nie hul eie voetspore kleiner maak nie.

“Ek is elke dag bekommerd oor die Knysna-olifante omdat dit ’n klein bedreigde bevolking is. Maar as ek geglo het dat net een van hulle bestaan, sou ek die eerste een wees om te sê: ‘Hoe kon ons toelaat dat dit gebeur het?’ En dit is nie wat ek sê nie. Wat ek wetenskaplike sterk aanbeveel is om ’n vergelykende DNS-sensus te doen om die huidige getalle van die Knysna-olifante vas te stel.”

Sanparke sê

By navraag het Sanparke gesê Patterson en Lorri Eggert se studie is in 2007 gepubliseer oor hul veldwerk van meer as 15 jaar gelede. Dit was hul bevinding van die situasie tóé. Hoewel daar gespekuleer kan word oor hoekom dit nie die betroubaarste navorsing is nie, is dit net spekulasie en kan daar nou net terugvoering gegee word oor wat 15 jaar later gevind is.

Sanparke sê hy het sy navorsing gedoen om ingeligte besluite te kan neem en nie om vorige ondersoekers verkeerd te bewys nie.

’n Mens moet ook verder kyk as die presiese getal olifante. Of daar een of drie olifante is, daar is ’n probleem en die Knysna-olifant word bedreig. As die verskillende partye kan saamstem om nie saam te stem nie, kan die proses vorentoe beweeg.

Nog iets wat verwarrend kan wees, is dat jonger bulle dieselfde grootte misbolle as volwasse koeie los.

Sanparke sê olifante ontlas gereeld, gemiddeld elke vier uur. Die spesifieke olifant beweeg in een gebied vir ’n klompie dae voordat sy aanbeweeg. Sy beweeg op en af in dieselfde pad vir dae lank, volgens die kamerastrikke, voordat sy aanbeweeg. Groot hope mis is sigbaar in ’n gebied of ’n deel van die pad as sy daar was.

Omdat miskruiers minder doenig in dié park is as in ander parke, en omdat die bos nat is, bly die mis klam en behoue vir verskeie maande ná uitskeiding, wat dikwels lei tot stellings soos “vars mis” wat by nadere inspeksie eintlik oud is.

Om die mis te meet om die ouderdom van die olifant vas te stel, is ’n gespesialiseerde tegniek wat nie altyd reg verstaan word nie. Die hoop mis moet eers ondersoek word voordat besluit word of dit eg is om te meet.

Byvoorbeeld, ’n olifant met ’n loopmaag sal misbolle los wat nie gemeet kan word nie. Indien meetbaar sal die vier grootste bolle gemeet word.

Dikwels is daar berigte van groot of klein mis, maar as dit gemeet word, val dit binne die reeks van die grootte van ’n volwasse olifantkoei.

Nog iets wat verwarrend kan wees, is dat jonger bulle dieselfde grootte misbolle as volwasse koeie los.

Besigtig Patterson se DNS-studie hier.

Meer oor:  Sanparke  |  Gareth Patterson  |  Knysna-Bos  |  Olifant  |  Navorsing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.