Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
NDBV wil stokkie steek voor uitvoer van skape per skip

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is vasberade om die uitvoer van sowat 60 000 lewende skape per skip vanuit die Oos-Kaap na die Midde-Ooste stop te sit.

Volgens die NDBV sal die besending skape vir minstens 22 dae per skip reis terwyl hulle blootgestel word aan siektes, hoë vlakke van ammoniak, oorbevolking, hittestres, ernstige honger en dors, terwyl hulle ook in hul eie ontlasting sal woon.

Die Al Shuwaikh-vaartuig het Maandag in Oos-Londen se hawe vasgemeer om die skape op te laai.

Volgens die NDBV het Al Mawashi, ’n Koeweitse invoerder, ’n maatskappy in Suid-Afrika geregistreer en ’n plaaslike uitvoerder, die Page Farming-trust, gebruik om sowat 60 000 skape te kry wat vandeesweek op die vaartuig gelaai word.

Hulle beoog glo om 600 000 diere, wat skape, bokke en beeste insluit, per jaar uit te voer.

“Talle diere sal nie die reis oorleef nie. Die kumulatiewe dodetal van Al Mawashi se vloot vir die tydperk van 1980 tot die eerste helfte van 2017 is meer as 1,5 miljoen,” het Grace de Lange, ’n senior inspekteur en bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, in ’n verklaring gesê.

Die vereniging het sy kommer uitgespreek oor die roete wat die vaartuig van Suid-Afrika oor die Arabiese See en deur die Straat van Hormoes tot in die Midde-Ooste sal neem. “Die gebiede is bekend as hoërisikogebiede vir hittestres vir die tydperk tussen Mei en Oktober.”

Benewens die hoë temperature en humiditeitsvlakke is die NDBV ook besorg oor die groot hoeveelheid urine en ontlasting waarin die vee tydens die reis op die vaartuig sal leef.

Suid-Afrika moet standpunt inneem teen hierdie afskuwelike en onnodige praktyk en eerder verpakte vleis uitvoer, wat nie net voorkom dat diere onnodig ly nie, maar ook die land se sukkelende ekonomie help.
Hoessam Sarhan, kommersiële bedryfshoof van Al Mawashi

“Meer as 10 000 liter urine en ontlasting word elke dag versamel op ’n tipiese uitvoerskip waar lewende skape aan boord is. Die skip sal ook eers ‘uitgespoel’ word nadat hulle afgelaai is.”

Die skape wat wel die reis oorleef, sal volgens De Lange aan die genade van ’n land oorgelaat word wat geen dierebeskermingswet het nie.

“Hulle sal in die bagasieruim van motors ingeboender en onmenslik behandel word. Hulle sal ook geslag word terwyl hulle by hul volle bewussyn is, en dikwels deur ongeskoolde slagters in die teenwoordigheid van ander diere,” het De Lange bygevoeg.

Hoessam Sarhan, kommersiële bedryfshoof van Al Mawashi wat in Dubai gestasioneer is, het in reaksie op die NDBV se verklaring gesê die aantygings is nie op feite gegrond nie.

“Ons maatskappy se bedrywighede voldoen vir meer as 47 jaar aan die hoogste standaarde in die wêreld.

“Ons is nog nooit van dieremishandeling aangekla nie, want die welsyn van diere is ons prioriteit,” het Sarhan gesê.

Hy het bygevoeg hul maatskappy het niks om weg te steek nie en het mense aangemoedig om hul geriewe oor die wêreld heen te besoek en self ondersoek in te stel.

Sarhan het bevestig dat hulle ’n maatskappy in Suid-Afrika geregistreer het en die Page Farming-trust vir dienslewering betaal.

“Met die doel om ’n beter lewensbestaan vir die opkomende boere te verseker, moet ons vir die volgende vyf jaar 600 000 skape per jaar uitvoer,” het Sarhan gesê.

Intussen meen die NDBV die uitvoer van lewende vee per skip vir slagdoeleindes is onaanvaarbaar en het met ’n aanlyn petisie teen dié uitvoerbedrywighede begin.

“Suid-Afrika moet standpunt inneem teen hierdie afskuwelike en onnodige praktyk en eerder verpakte vleis uitvoer, wat nie net voorkom dat diere onnodig ly nie, maar ook die land se sukkelende ekonomie help.”

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Midde-Ooste  |  Uitvoer  |  Skip  |  Skape  |  Hof  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.