Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Net 3% van dié ekosisteme funksioneer, toon navorsing

Net 3% van die aarde se landelike ekosisteme funksioneer nog soos 500 jaar gelede.

Die res van die aardoppervlakte is vol paaie, heinings, weiding, nywerheidsplase, myne en indringerspesies.

Boonop is wild soos olifante, leeus, sebras, wolwe, gorillas en baie meer in 97% van die wêreld se ekosisteme uitgewis of in so ’n mate gejag of gestroop dat dit (die ekosisteme) nie meer funksioneer nie.

Só sê 15 internasionale navorsers in die verslag “Where Might We Find Ecologically Intact Communities?” wat Donderdag in die vaktydskrif Frontiers in Forests and Global Change gepubliseer is.

Die navorsers sê studies in die onlangse verlede wat met behulp van satelliete en onbemande vliegtuie gedoen is, het bevind sowat 30% van die aardoppervlakte is ongerep.

Vir die jongste studie het wetenskaplikes van die Universiteite van Cambridge, Liverpool, Gotenburg, Kent, Amsterdam, die Max Planck-instituut en verskeie bewaringsorganisasies dieselfde landkaarte gebruik as dié wat in die vorige navorsing gebruik is. Hulle het egter ook werk op die grond gedoen, omdat dit nie moontlik is om spesies se verspreiding uit die ruimte te sien nie.

Die wetenskaplikes het die jaar 1 500 n.C. as basis gebruik omdat die Wêreldbewaringsunie sy rooidatalys van bedreigde spesies vanaf dié jaartal bereken.

Die navorsers sê in hul gevolgtrekking “stukke” wildernis, met geen menslike voetspoor nie, word hoofsaaklik in die Amasone, die Kongo se tropiese woud, die Sahara, die oostelike dele van Siberië en in dele van Noord-Kanada aangetref. Ekosisteme in dié “stukke” kan nog as wildernis beskryf word.

Antarktika vorm nie deel van die navorsing nie.

‘n Afrika-savanne-olifant (‘Loxodonta africana’) in die Krugerwildtuin. Wetenskaplikes en omgewingsbewaarders beskou olifante as die ingenieurs van ekostelsels in Afrika. Foto: Elise Tempelhoff

Van die grootste verwoesters van ekosisteme is diere-indringers soos wilde huiskatte, honde, bokke, mak hase en kamele. Dit is veral die geval in Australië, waar geen ekostelsel meer behoorlik funksioneer nie, luidens die verslag.

Die navorsers wys daarop dat olifante (Loxodonta africana cyclotis en L. africana) noodsaaklik is vir ekosisteme in Afrika om te funksioneer omdat hulle sade versprei en belangrike dele van woude vir ander spesies “oopmaak”.

Die jongste verslag oor die toestand van die aarde het kaarte wat die menslike voetspoor wys met dié gekombineer wat wys waar wilde diere uit hul habitat verdwyn het, na ander gebiede verskuif het – veral weens klimaatsverandering – en waar die bevolking van wildspesies só yl is dat die ekosisteem nie behoorlik kan funksioneer nie. Hul gevolgtrekking was dat net 3% van landelike ekosisteme ten volle funksioneer.

Die meeste van die data wat die navorsers gebruik het, was vir soogdiere, maar hulle maak in die verslag ook melding van insekte, sommige voëls, visse, plante, reptiele en amfibieë.

Die navorsers is dit eens dat die gebiede waar ekosisteme funksioneer, deur inheemse volkere bewoon word.

Die navorsers stel voor dat spesies as deel van ’n wêreldwye “restourasieprojek” op ’n wetenskaplike wyse na die gebiede – met ’n lae menslike voetspoor – verskuif word. Dit is gebiede waar hulle voorheen voorgekom het, maar uitgesterf het. Hulle meen dit sal die grondgebied waar ekosisteme funksioneer tot sowat 20% verhoog.

Dié gebiede moet geïdentifiseer word en sluit nie die gebiede in wat ekologies funksioneer nie.

Die spesies wat die navorsers geïdentifiseer het om hervestig te word sodat ekosisteme in Afrika weer kan begin funksioneer, sluit die Afrika-olifant (albei spesies), die Westelike laaglandgorilla (Gorilla gorilla gorilla), die Westelike sjimpansee (Pan troglodytes verus), wilde leeus (Panthera leo) en die Afrikabuffel (Syncerus caffer) in.

In ander wêrelddele moet oerangoetangs, die bergleeu, verskeie beerspesies soos die ysbeer (Ursus maritimus) hervestig word.

* 2020 tot 2030 word as die dekade van die restourasie van die aarde beskou.

* In Januarie vanjaar het meer as 50 lande, waaronder Brittanje, die onderneming gegee dat hulle sal saamwerk om ’n derde van die planeet teen 2030 te bewaar. Suid-Afrika was nie deel van dié groep nie.

Meer oor:  Ekosisteme  |  Navorsing  |  Aardoppervlakte  |  Vaktydskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.