
Robin Cook hang ’n byekorf in ’n maroelaboom in die Jejane-reservaat. Die bye keer dat olifante die boom vernietig.
Wetenskaplikes in Limpopo eksperimenteer deesdae met byekorwe as ’n natuurlike beheermetode teen olifante wat maroelabome verwoes.
Olifante is bang vir bye en sal eerder wegbly van bome waar dié insekte bly.
Die organisasie Elephants Alive en Robin Cook, ’n meestersgraadstudent van die Universiteit van die Witwatersrand, het al 100 byekorwe in die Jejane-natuurreservaat se maroelabome opgehang om olifante in toom te hou.
“In Suid-Afrika is daar kommer oor die groeiende olifantbevolking wat ’n negatiewe uitwerking op ikoniese bome soos die maroelaboom het,” sê dr. Michelle Henley, stigter van Elephants Alive.
SANParke het Elephants Alive in 2012 gevra om te help met ’n plan om die skade te beperk wat olifante in sekere gebiede aanrig.
“Een metode is om draad rondom die boomstam te plaas sodat die olifante nie die bas kan aftrek nie. Die ander is die byekorwe,” sê Henley.
Die doeltreffendheid van albei metodes word nou bestudeer.
Die bye-plan spruit uit navorsing deur dr. Lucy King van Save the Elephants.
“Voorlopige studies in Kenia toon dat 94% van olifante binne 80 sekondes wegbeweeg as hulle bye hoor,” sê King.
Die gebruik van bye het stroping van gewasse deur olifante verminder met amper 80%, terwyl dit ook keer dat olifante doodgemaak word deur boere wie se grond hulle betree.
In die Suid-Afrikaanse eksperiment is geen boom met ’n byekorf nog beskadig nie.