Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Nóg ’n walvis uit nette gered

Nóg ’n boggelrugwalvis het in visvangnette verstrengel geraak, dié keer by Buffelsbaai-strand tussen Simonstad en Kaappunt.

Dit is die derde keer in sowat drie weke dat boggelrugwalvisse in soortgelyke omstandighede gered moes word.

NSRI-beamptes by die walvis tydens die reddingspoging. Foto: Simon McDonnel (SAWDN)

’n Vorige keer het ’n boggelrugwalvis by St. Francisbaai in die Oos-Kaap in nette verstrengel geraak, maar is ná ’n uitgerekte reddingspoging bevry. Sy het ’n kalfie by haar gehad. 

Verlede Woensdag is die karkas van ’n ander jong boggelrugwalvis uit die see by Sunny Cove naby Simonstad verwyder.

Dié keer is nog ’n jong walvis by Buffelsbaai-strand tussen nette opgemerk. Hy was sowat agt meter lank en baie sterk. Kort nadat hy deur die Suid-Afrikaanse walvisontstrengelingsnetwerk (SAWDN) bevry is, het hy goedsmoeds weggeswem.

Ooggetuies het Sondag laatmiddag die SAWDN gekontak toe hulle die walvis in die nette sien spartel. SAWDN-vrywilligers, aan boord ’n reddingsboot van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Simonstad, het hulle na die toneel gehaas.

Die see was rof en die vrywilligers, op die Southern Right-walvisbesigtigingsboot, het hul bes gedoen om die walvis te bevry. Hulle kon nie die nette heeltemal loskry nie en moes noodgedwonge die reddingspoging staak tot die volgende oggend.

Gedurende die nag het beamptes van die Tafelberg Nasionale Park die walvis dopgehou. Vroeg Maandagoggend het die reddingspoging hervat en ’n vissersboot, Albatros, het hand bygesit.

Mense op die vissersboot Albatros kyk toe hoe NSRI-beamptes die walvis probeer bevry. Foto: Simon McDonnel (SAWDN)
Almal juig toe die jong boggelrugwalvis goedsmoeds wegswem. Foto: Simon McDonnel (SAWDN)

Swaar snygereedskap en hoeke is gebruik om die visvangnet van die walvis se regtervin te verwyder, en binne sowat een uur is die reddingspoging voltooi.

Die SAWDN het die NSRI Simonstad in ’n verklaring bedank, asook vir Dave Hurwitz met sy walvisbesigtigingsboot Southern Right en die vissersboot Albatros vir hul hulp met die suksesvolle reddingspoging.

Vrydag het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gesê daar word ’n moratorium geplaas op seekatvangste in Valsbaai, omdat daar vermoed word dié nette is die rede vir die groot aantal gevalle van walvisse wat vrek of verstrengel.

“Ons besluit is geneem ná wydverspreide kommer oor onlangse voorvalle in die Valsbaai-gebied waar walvisse verstrengel geraak het en gevrek het,” het sy gesê. 

Die minister het

Vrydag in ’n verklaring gesê seekatvissers moes dieselfde dag begin met die verwydering van nette uit Valsbaai.

Sekere gebiede in Valsbaai is geïdentifiseer waar die nette eerste verwyder moet word, omdat die grootste aantal gevalle daar plaasgevind het.

Meer oor:  Simonstad  |  St. Francisbaai  |  Oos-Kaap  |  Kaappunt  |  Walvis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.