Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Nuwe bevolking oewerkonyne ontdek

’n Enkele verlate karkas van die erg bedreigde oewerkonyn op een van die toegangsroetes na die Baviaanskloof in die Oos-Kaap, het tot die ontdekking van ’n hele nuwe bevolking van dié spesie gelei.

Die teenwoordigheid van die oewerkonynbevolking aan die weste van die Baviaanskloof, oos van Uniondale, is in Mei deur die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) bevestig.

Een van die oewerkonyne wat aan die weste van die Baviaanskloof in die Oos-Kaap met ’n strikkamera afgeneem is.

Die naaste bestaande bevolking van die spesie is meer as 250 km wes van die kloof geleë.

Navorsers het hul ontdekkingsreis na die skaam spesie begin nadat Alan Lee, ’n ornitoloog van die Blue Hills Escape-plaas in die Wes-Kaap, in Desember op die karkas van ’n oewerkonyn afgekom het.

“Gelukkig was die man ’n wetenskaplike wat dadelik besef het dié karkas is nie ’n gewone haas nie. Hy het op sosiale media met ons kontak gemaak,” sê Cobus Theron, bestuurder van die EWT-bewaringsprogram vir droë gebiede.

Volgens hom was daar slegs twee bestaande bevolkingsgroepe van die spesie in die land, naamlik die noordelike groep, wat Loxton en Victoria-Wes in die Karoo insluit, en dan die suidelike groep in die Barrydale-, Montagu- en Touwsrivier-gebied.

Met die vergunning van privaat boere het EWT oor ’n gebied van 6 000 ha altesaam 38 strikkameras opgestel. Die gebied is in 12 klustergebiede verdeel, met drie kameras wat per kluster sowat 150 m² se bewegings kon vasvang.

“Dié metode was nie noodwendig die vinnigste nie, maar is beslis die beste manier om akkurate uitslae te kry, aangesien die klusters wyd uitmekaar is en die waarskynlikheid klein is om dieselfde konyn twee keer af te neem.”

Nog ’n oewerkonyn wat die afgelope paar maande in die Baviaanskloof op kamera gesien is.

Die EWT-navorsers het die kameras ná 50 dae uit die veld verwyder en die data begin ontleed.

“Die resultate het alle verwagtinge oortref. Ons het in agt van die 12 klusters die oewerkonyn opgemerk. Dit het weer eens bewys dat dié spesie die ware wegkruipertjiekampioen van die Karoo is.

“Al ons voorspellingsmodelle oor waar die spesie kan voorkom, het nie een keer dié gebied aangedui nie. Terwyl Suid-Afrika se biodiversiteit betreklik goed bestudeer is, kan ons sowaar nog in 2019 ’n nuwe teenwoordigheid van die spesie ontdek. Dit is ’n storie van hoop.”

Die oewerkonyn Foto: Argief

Coral Birss, CapeNature se uitvoerende direkteur vir biodiversiteitsvermoëns, het die ontdekking verwelkom. “Die jongste ontdekking is merkwaardig en voorspel goeie nuus vir die toekomstige oorlewing van die krities bedreigde spesie, veral vir die beskerming daarvan in die Wes-Kaap en rondom ons natuurreservate.”

Volgens Theron was die onlangse uitslae genoeg bewys van die spesie se teenwoordigheid om nou met ’n diepteondersoek na die bevolkingsgrootte en genetika te begin.

Die karkas wat in Desember opgetel is, sal ook verder gebruik word om te bepaal of die bevolking in die Baviaanskloof geskiedkundig met die noordelike of suidelike groep se genetika ooreenstem en of dit vandag nog dieselfde is. Planne om die teenwoordigheid van dié spesie in die Baviaanskloof-wêrelderfenisgebied te soek, is ook in die pyplyn.

Vir nou sal die EWT met die plaaslike boere in die Baviaanskloof kommunikeer om die spesie se voortbestaan in die gebied te help verseker.

“Bewusmaking van die bedreigde spesie se teenwoordigheid is nou veral belangrik om deur te gee sodat bestuurstyl van die grond moontlik aangepas kan word. Die feit dat die spesie hier is, dui egter daarop dat die grond reeds goed hanteer en bestuur word,” sê Theron.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Baviaanskloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.