Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Nuwe hoop vir morsige Vaalrivier

Die weermag, wat die laaste paar maande vir die rehabilitasie van die Vaalrivier verantwoordelik was, onttrek hom Vrydag aan die gebied, maar die plaaslike waterverskaffer het vandeesweek geld van die staat ontvang om die werk voort te sit.

Die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) het eergister R141 miljoen gekry om onder meer voorbereidingswerk te doen vir die rehabilitasie van die besoedelde Vaalrivier.

Erwat sal in April, by die aanvang van die nuwe boekjaar, nóg R800 miljoen ontvang om die rehabilitasie te voltooi, het Thami KaPlatjie, voorsitter van die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie se taakspan, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê.

Kol. Sifiso Jimta

KaPlatjie sê die inwoners van die Vaaldriehoek ervaar ’n krisis en dit moet nou opgelos word.

“Mense is keelvol. Ons moet sorg dat mense weer vertroue in ons as instelling kry.”

Die jongste optrede deur die staat kom nadat ’n regeringsafvaardiging onder leiding van adj.pres. David Mabuza in September die Sebo­keng-rioolaanleg besoek het. Hy het gewaarsku die inwoners van die Vaaldriehoek is “opstandig” oor die voortgesette besoedeling van die Vaalrivier en dat hulle nou “daadwerklike optrede” wil sien.

Kol. Andries Mahapa van die weermag en projekbestuurder van Operasie Vaalrivier, het gister gesê hy oorhandig nou die taak om die rivier skoon te maak aan Erwat.

“Die ingenieurskorps onttrek vandag aan die gebied. Sowat 314 soldate, lede van die veiligheidseenheid, sal tot einde Januarie aanbly,” sê hy.

Hulle sal die gebied waar Erwat herstelwerk doen teen plunderaars beveilig.

Na verneem word, is die weermag ’n verdere R20 miljoen belowe vir die beveiliging van die gebied tot einde Januarie.

Die weermag het op 18 November verlede jaar hul intrek in ’n kamp in die noorde van Vanderbijlpark langs ’n reservoir geneem. Hulle sou aanvanklik op 31 Desember vanjaar weer die gebied verlaat het.

Daar is destyds, toe die weermag betrek is, geraam dat die hele projek sowat R240 miljoen sou kos. Mahapa het wel in Februarie­ aan die Menseregtekommissie gesê dit is ’n “massiewe projek” en dat dit waarskynlik nader aan R1 miljard gaan kos.

Hy het die toedrag van sake destyds toegeskryf aan die feit dat die Emfuleni-munisipaliteit nie rioolaanlegte in stand gehou het nie.

Die hele stelsel het ineengestort en benewens die feit dat rioolvuil­ in dié belangrike rivier beland het, het dit op plekke selfs deur mense se huise geloop.

Die offisier het toe ook gesê hy is bang Emfuleni sal wéér sy plig versaak nadat die weermag onttrek het. Die weermag se geld vir die operasie het in Junie vanjaar opgeraak en hy moes van sy take eers laat vaar.

Die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie het intussen die weermag se aanvanklike rekening van R80 miljoen vereffen.

Dit is ’n gedeeltelike betaling vir die werk wat die weermag die afgelope jaar verrig het.

Daar is nog ’n agterstallige bedrag waaroor die twee partye moet ooreenkom, sê Mahapa.

Tumelo Gopane, uitvoerende hoof van Erwat, sê dié watereenheid sal volgende week begin om verstopte rioolpype en mangate skoon te maak.

Volgens hom sal die mond van die Rietspruit by die Loch, waar dit in die Vaalrivier aansluit, met laaigrawe oopgegrawe word omdat die rioolslik al “meters hoog” teen die Barrage-brug opgestoot het.

Bheki Ntsele, lid van die burgemeesterskomitee vir infrastruktuur, sê om beskuldigings van korrupsie te voorkom, sal Erwat betaal word vir elke rekening wat hy aan die departement stuur. Die geld sal dus nie vooraf aan Erwat uitbetaal word nie, sê hy.

Gift Moerane, die Emfuleni-munisipaliteit se burgemeester, het ook belowe om weekliks ’n mediakonferensie te hou sodat “die mense van Suid-Afrika ingelig gehou kan word” oor hul vordering.

Maureen Stewart, woordvoerder van Save the Vaal (Save), sê dié bewaringsorganisasie is versigtig­ optimisties dat die Vaalrivier nou reggeruk sal word.

Volgens haar is daar in die verlede al soveel beloftes gemaak en so baie “ingegryp”, maar die situasie het net vererger.

Rosemary Anderson, sakevrou van Vanderbijlpark, sê sy het nou weer hernude hoop dat die Vaalrivier tog uiteindelik reggeruk sal kan word.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Omgewing  |  Rehabilitasie  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.