Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Nuwe plan vir myn in Pretoria ontstel

Inwoners van ’n Pretoriase woonbuurt is opnuut omgekrap oor ’n mynhuis wat eers vir platinum op hul voorstoep wou prospekteer, maar nou magnetiet, vanadium en yster op presies dieselfde stuk grond wil soek.

Die mynhuis het glo sy naam verander van Sable Platinum na Gemsbok Magnetite.

Martin Barnard, inwoner van Doornpoort en voormalige voorsitter van die inwonerskomitee, het Maandag gesê die myngroep Gemsbok Magnetite het verlede week ’n kennisgewing “iewers teen ’n heining” vasgespyker oor sy planne om om ’n prospekteerreg aansoek te doen aan weerskante van die N1 en noord van die N4 Bakwena-hoofweg noord van Pretoria.

Dit is vreemd dat die mynhuis sy naam verander het. Hy het ook ander omgewingskonsultante aangestel.
Martin Barnard, inwoner van Doornpoort en voormalige voorsitter van die inwonerskomitee

Luidens die myngroep se voorlopige verslag doen hy nou by die departement van mine­rale bronne aansoek om op 2 690 ha (sowat 5 380 rugbyvelde) vir verskeie minerale te prospekteer.

As die mynhuis sy sin kry en die minerale op die grond kry, beplan hy om ’n oopgroefmyn te begin. Die myngroep sê die grond waarop hy wil prospekteer is sowat 13 km van Pretoria.

Barnard sê dít is misleidend omdat die grond (Doornpoort 295 JR) op die voorstoep van Doornpoort se inwoners is, ’n klipgooi van die Wonderboom-lughawe en naby die Bon Accord-dam.

Dit is ook 5 km van Montana, waar baie bejaardes woon. ’n Spruit vloei ook oor die grond en die ontwikkeling van ’n gholflandgoed reg wes van die grond is al in ’n gevorderde stadium.

Inwoners is bekommerd oor lug- en waterbesoedeling, asook groter verkeersdrukte as die myn goedgekeur word.

Volgens Barnard het Sable Platinum in 2013 ook ’n prospekteeraansoek ingedien op presies dieselfde stuk grond. Die inwoners van Doornpoort het toe hul voet dwars gesit dat hulle nie ’n oopgroefmyn op hul voorstoep sal duld nie.

Ons sal nie toelaat dat hy op die grond prospekteer nie. Prospektering lei in die meeste gevalle tot volskaalse mynbou.
Martin Barnard

“Ons het tot 2016 teen die mynhuis geveg en selfs prokureurs aangestel om namens ons korrespondensie met die departement van minerale bronne en die mynhuis se konsultante te voer nadat ons verneem het die prospekteerreg is goedgekeur.

“Die departement het ons nooit geantwoord nie. In 2016 het die mynhuis verdwyn, maar verlede week het ’n inwoner ’n kennisgewing van die nuwe aansoek op ’n heining raakgesien en dit vir my gebring.

“Dit is vreemd dat die mynhuis sy naam verander het. Hy het ook ander omgewingskonsultante aangestel.

“Dit is wel dieselfde myngroep.

“Ons sal Gems­bok nou maar op dieselfde manier beveg waarop ons Sable hier weggekry het,” sê Barnard.

“Ons sal nie toelaat dat hy op die grond prospekteer nie. Prospektering lei in die meeste gevalle tot volskaalse mynbou.”

Volgens die myngroep se omgewingskonsultante, Joan Consulting, beplan Gemsbok om tien boorgate te sink. Elke boorgat sal sowat 100 m² beslaan.

’n Gemeenskapsvergadering word beplan vir Maandag 15 April 18:00 by die Intsingizi Lodge, Hornbillsingel 154, Doornpoort, Montana.

Myn
Meer oor:  Pretoria  |  Platinum  |  Myn  |  Yster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.