Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
NW-sentrum red roofvoëls, roofdier én knaagdier binne 24 uur

Personeel van die Owl Rescue Centre in Hartbeespoort in Noordwes het vroeër die week 1 200 km in 24 uur afgelê om agt geveerdes en vierpotiges te red.

Brendan Murray, medestigter van die Owl Rescue Centre, sê hulle is Maandagaand na ’n landgoed daar naby in Skeerpoort ontbied om ’n swartsperwer te red. Dié voël het ’n gebreekte linkervlerk gehad.

“Swartsperwers jaag hul prooi in die lug. Sy het waarskynlik gejag en in iets soos ’n boomtak of ’n kragdraad vasgevlieg,” sê Murray.

“Sy is na ons veearts gebring en sal ’n paar weke by ons bly vir rehabilitasie voordat ons haar vluggereedheid sal toets en haar sal vrylaat.”

Die vyf nonnetjie-uile is by die NG kerk Bloemhof gered. Foto: Verskaf

Dinsdagoggend moes personeel na Bloemhof in Noordwes reis om vyf nonnetjie-uile te red wat in die NG kerk Bloemhof se toring nesgemaak het.

“Hulle het na die onderkant van die toring geval. Daar was ses uile, maar een het nie die val oorleef nie. Hulle is nie in die beste toestand nie, maar hulle sal oukei wees,” sê Murray.

Terwyl hulle in Bloemhof was, het hulle ’n oproep gekry dat ’n tierboskat op ’n plaas in Beestekraal gevang is. Dit was sowat vier uur se ry ver.

“Daar word onder meer met skape op die plaas geboer en die tierboskat is in ’n strik vir roofdiere gevang. Hulle wou haar skiet, maar gelukkig het iemand voorgestel dat hulle ons bel,” sê Murray.

Die swartsperwer, wat in Skeerpoort gered is, se gebreekte vlerk word deur ’n veearts behandel. Foto: Verskaf

Die tierboskatwyfie is ongedeerd en sy is Woensdag in die Mountain Sanctuary Park in die Magaliesberge vrygelaat.

Dinsdagaand moes die Owl Rescue Centre weer ingryp by ’n pakhuis in ’n nywerheidsgebied in die ooste van Pretoria, waar werkers ’n dassie in ’n strik gevang het.

“Die werkers het ’n klein groentetuin gemaak en iets het hul groente geëet. Hulle het strikke om die groentetuin gestel en die dassie gevang,” sê Murray.

“Hy is gesond en ons het ’n kolonie dassies op ons perseel waar ons hom sal inbring.”

Die tierboskat is in ’n strik op ’n plaas in Beestekraal gevang. Foto: Verskaf

Murray sê hoewel hulle hoofsaaklik op uile en ander voëls fokus, sal hulle enige dier in nood red.

“Baie van die ander diererehabilitasiesentrums het nie altyd die mannekrag om diere te gaan red nie, dan sal ons dit namens hulle doen. Ons plaas dit ook op sosiale media, wat daartoe lei dat baie mense ons na dié soort voorvalle ontbied.

“Gelukkig kry ons skenkings en kan die brandstof bekostig. Met diere soos die tierboskat sal ons wel nie die rehabilitasie doen nie, maar net help om te red en vry te laat,” sê hy.

Die dassie is in Pretoria gered nadat hy in ’n strik by ’n groentetuin gevang is. Foto: Verskaf
Meer oor:  Noordwes  |  Roofvoëls  |  Knaagdier  |  Roofdier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.