Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Okavango-delta se Wêrelderfenis-status dalk in die gedrang

Die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (Unesco) is “besonder bekommerd” oor ReconAfrica­, ’n Kanadese energiemaatskappy, se soektog na olie en gas in die Kavangorivier in die opvangsgebied van die Okavango-delta.

Unesco se Wêrelderfeniskomitee het in sy 44ste sitting, wat in Fuzhou, China, gehou word, in ’n besprekingsdokument gesê hy is bekommerd oor die feit dat die Namibiese regering, asook dié van Botswana, aan ’n petroleummaatskappy goedkeuring gegee het om na olie en gas in dié “sensitiewe gebied van internasionale belang” te soek.

Olie- en gasprospektering stel nie net die geologie en geografie van die gebied in gevaar nie, maar het ook ’n negatiewe uitwerking op migrasieroetes van olifante en ander wild, lui die besprekingsdokument.

Botswana en Namibië laat die prospektering vir olie en gas toe in weerwil van die feit dat die Belgiese regering $150 000 (sowat R2,2 miljoen) beskikbaar gestel het om dié Wêrelderfenisgebied te vergroot sodat dié deel van Angola waar van die riviere ontspring, by die bewaarde gebied gevoeg kan word.

’n Groot deel van die geld moet gebruik word vir die opleiding van inheemse mense om die Okavango-delta te beskerm en te bestuur, sê die komitee.

Die komitee het die regerings van Namibië en Botswana opdrag gegee om teen 1 Februarie “’n gedetailleerde verslag” oor die bewaringstatus van die Okavango-delta voor te lê.

Okavango-delta
Gaste staan onder 'n kremetartboom in Botswana se Okavango-delta. Foto: Reuters

Aspekte wat dringend aandag nodig het, is onder meer ’n behoorlike wildbestuursprogram. Die uitslag van ’n lugopname van wild wat in 2019 gedoen is, moet aan Unesco voorgelê word.

Die komitee wys voorts daarop dat ’n program opgestel moet word om indringers uit te roei.

Tien van die 15 afvalwateraanlegte in Namibië (onder meer rioolaanlegte­) funksioneer nie behoorlik nie en die besoedelde water vloei direk in die riviere van die delta in.

Unesco sê sowel Namibië as Botswana het die Wêrelderfeniskomitee daarvan in kennis gestel dat hulle goedkeuring vir die prospektering van olie en gas in/by die delta gegee het. Die goedkeurings is in die noordooste van Namibië en die noordweste van Botswana.

Intussen is die Wêrelderfeniskomitee “oorval” met petisies waarin burgerlike en omgewingsgroepe Unesco vra om in te gryp by die olie- en gasprospektering.

Van die versoekskrifte kom van inheemse mense van Bo­tswana en Namibië, skryf die komitee. Unesco waarsku dié twee lande dat die onttrekking en besoedeling van die water van die Okavango-delta sy status as Wêrelderfenisgebied in die gedrang kan bring.

Unesco dring ook daarop aan dat die wildheinings (wat beeste en wild uitmekaar moet hou) hersien moet word omdat dit ’n “massiewe invloed op die migrasieroetes van wilde diere het”.

Unesco waarsku in sy aanbevelings dat die voortsetting en uitbreiding van die huidige prospekteringsaktiwiteite aan “kritiese” omgewingsimpakstudies onderwerp moet word. Studies oor die maatskaplike impak wat dié aktiwiteit op inheemse mense van die streek het, moet ook gedoen word. Die studies moet aan sowel die Wêrelderfeniskomitee as die Wêreldbewaringsunie (IUCN) voorgelê word.

ReconAfrica sê in ’n twiet hy is net een van 30 hulpbronmaatskappye wat tans in die toekoms van Namibië belê.

Meer oor:  Okavango-Delta  |  Unesco
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.