Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Raaisel oor dooie Okavango-olifante, sê Botswana

Die Botswana-regering het Donderdagmiddag sy stilte verbreek oor die dood van sowat 400 olifante die afgelope twee maande in die omgewing van Seronga in die Okavango-delta.

Kebitsaone Maselesele van die departement van omgewingsake, natuurlike hulpbronne, bewaring en toerisme in Botswana, beskryf dit in ’n verklaring as “ ’n raaisel”.

’n Olifant lê dood by ’n watergat in die Okavango-delta. Foto: Reuters

Sy sê 356 karkasse is getel, maar bewaringsaktiviste sê meer as 400 olifante is reeds in dié gebied dood.

Maselesele sê in die verklaring, wat op die Botswana-regering se Facebook-blad geplaas is, monsters wat van die dooie olifante geneem is, is vir ontleding na laboratoriums in Zimbabwe, Suid-Afrika en Kanada gestuur.

Veeartse wat in die veld werk, het ook monsters geneem en ontleed dit nou, sê sy.

Sy het die publiek verseker die olifante is nie vir hul tande gestroop nie. Die regering het die tande verwyder sodat niemand dit kan steel nie. Sy het nie gesê of Bo­tswana die olifanttande gaan oppot of vernietig nie.

Maselesele het wel gemeld die karkasse wat naby dorpies aangetref is, is op ’n veilige manier vernietig.

Sy kon geen aanduiding gee van wanneer die uitslag van die laboratoriumtoetse bekend sou wees nie.

Verskeie inwoners van Bo­tswana het hul misnoeë uitgespreek met die regering van pres. Mokgweetsi Masisi, wat hulle dink inligting oor die olifante weerhou.

Thapelo Rabson, mikrobioloog van Gaborone, sê in reaksie op die verklaring Botswana het die afgelope twee maande die nuus van die olifante se dood van buitelandse media verneem.

“Julle is deur die BBC voorgespring terwyl julle stil is. Is daar iets wat julle vir ons wegsteek?”

Masisi het terselfdertyd Donderdagmiddag ’n verklaring uitgereik om te sê hy sal vir die volgende twee weke in selfisolasie wees nadat van die amptenare “na aan hom” positief vir die Covid-19-virus getoets is.

Bronne sê daarop Masisi verkeer onder “geweldige druk” en dit is die vierde keer sedert Maart dat hy in selfisolasie is.

Dít en die getal olifante wat dood is, is om die minste te sê skokkend.

Banda Senamolela sê teen die tyd dat Masisi en sy regering uitgevind het waaraan die diere dood is, sal Botswana geen olifante meer oorhê nie.

The Guardian het Woensdag berig die olifante is vermoedelik weens vergifting dood en dat die “onbekende” gif die senustelsel aanval.

Inwoners het aan hierdie koerant gesê hulle het gesien hoe van die olifante een oomblik nog rondloop en die volgende inmekaarstort.

“Sommige het net so gestaan en op hul gesig geval.”

Nog ooggetuies sê hulle het gesien hoe van die olifante in sirkels rondloop en dan inmekaarstort.

Dr. Niall McCann, ’n kundige en direkteur van die bewaringsorganisasie National Park Rescue in Brittanje, het aan die koerant gesê dit lyk op die oog af asof­ die olifante nie gely het nie, maar baie vinnig dood is. Hy sê dit is baie moeilik om te raai watter soort gif moontlik gebruik is.

Mary Rice, uitvoerende direkteur van die Environmental Investigation Agency (EIA), sê dit lyk asof daar ’n gebrek aan dringendheid in die Botswana-regering is om vas te stel wat die dood van die olifante veroorsaak het.

“Dít en die getal olifante wat dood is, is om die minste te sê skokkend,” sê Rice.

Dit is bekend dat vee- en saaiboere in die Seronga-streek van die Okavango-delta gedurig in konflik met die land se olifante is.

Botswana huisves sowat 130 000 van die laaste olifante op die vasteland. In die res van Afrika, buiten Zimbabwe waar daar sowat 88 000 olifante is, en Suid-Afrika met sowat 24 000, het olifante feitlik uitgesterf.

Meer oor:  Botswana  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.