Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Olie-besmeerde pikkewyne: Rehabilitasie is op dreef

Amper al 91 pikkewyne wat weens ’n oliestorting in Algoabaai met olie besmeer was, is skoongemaak en gereed vir rehabilitasie.

Net twee is nog nie gewas nie omdat hulle nog nie sterk genoeg is nie.

Die groep bedreigde Afrika-pikkewyne is tussen 8 en 23 Julie by Bird- en St. Croix-eiland in Algoabaai gered en na die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) in Port Elizabeth geneem.

Jamie Edwards (links) en Zamu Lazola (regs), werkers van die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) in Port Elizabeth, maak gereed om een van die pikkewyne wat gewas is, vir ’n swemoefening te neem as deel van die rehabilitasieproses. Foto: Lulama Zenzile

Dit kom nadat die Liberiese vragskip die Chrysanthi S op 6 Julie nagenoeg 360 liter olie by die Ngqura-hawe by Port Elizabeth in die see gestort het. Dit het gebeur terwyl die vragskip ter see met brandstof hervul is.

Volgens dr. David Roberts, ’n veearts by Sankub, is twee van die besmeerde pikkewyne nog in die hoësorgeenheid vir behandeling.

“Die wasproses is baie stresvol vir pikkewyne. Hulle is nog nie gewas nie, want hulle is erg ondergewig. Wanneer hulle so uitgeteer is, sal hulle nie die wasproses oorleef nie. Dus moet hulle eers weer gesond word en versigtig gevoer word om gewig op te tel. Eers wanneer hulle sterker is, sal hulle gewas word,” sê Roberts.

Hy sê een volwasse pikkewyn en twee kuikens wat ingebring is, het gevrek.

Die kuikens is vermoedelik weens die redding- en rehabilitasiepoging dood, sê Roberts.

“Ongelukkig is hulle baie delikaat en tensy alles perfek is, kan hulle maklik vrek weens infeksies of ander probleme terwyl hulle in aanhouding is.”

Die pikkewyne wat voorheen met olie besmeer was, kry daagliks kans om te swem ter as voorbereiding vir hul vrylating in die see. Foto: Lulama Zenzile

Die volwasse pikkewyn wat gevrek het, was volgens Roberts baie maer ten tyde van die reddingspoging. Die ondervoeding, tesame met die olie, was vermoedelik te veel vir die pikkewyn om te hanteer. “Wanneer hulle met olie besmeer word, kan hulle nie swem om kos te vang nie. Hulle kry maklik koud en word deur die gifstowwe in die olie geaffekteer.”

Die reddingsoperasie het ook een kormorant en een malgas geëis.

12 malgasse en drie kormorante het oorleef en word ook by Sankub versorg.

Volgens Roberts sal die pikkewyne en die voëls vir minstens nog ’n maand in hul sorg wees.

Die pikkewyne moet eers die natuurlike olies in hul vere opbou om hul waterdigtheid te verseker.

Gedurende die tydperk sal die pikkewyne se swemvermoë, voeding en waterdigtheid gemonitor word, voordat hulle in die see vrygelaat word.

Ronnis Daniels, Sankub-woordvoerder, sê hulle beplan juis om ’n nuwe swembad vir die sentrum aan te bou.

Volgens haar sal die nuwe swembad ses afskortings hê, sodat seevoëls volgens hul onderskeie rehabilitasieprosesse afgeskort kan word.

“Swem is ’n uiters belangrike deel van die rehabilitasie. Swem moedig die stryk van vere aan, wat tot beter waterdigtheid sal lei.”

Volgens Daniels sal meer oor dié swembadprojek binnekort bekend gemaak word, waarmee Sankub ook die publiek se ondersteuning sal benodig.

Sodra die pikkewyne genoeg tyd in die swembad deurgebring het, word hulle deur ’n werknemer, soos Zamu Lazola hier doen, uitgehaal en na ’n rusplek geneem. Foto: Lulama Zenzile
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Algoabaai  |  Omgewing  |  Bewaring  |  Oliestorting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.