Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Olifant verloor sy liederlike halssnoer
’n Span kundiges het saamgewerk om die reuse-band om die olifantbul se nek te verwyder. Foto: Facebook/Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme

’n Jong olifantbul is uiteindelik bevry van die groot buiteband wat vermoedelik uit nuuskierigheid om sy nek beland het.

Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme het vroeër vandeesweek gehoor van ’n olifant wat rondloop met ’n buiteband om sy nek.

Mense van Lekubu/Braklaagte het die olifant Maandagmiddag laat by die Rietfontein Game Ranch, noord van Zeerust, gesien, sê John Power, ’n onkoloog van die departement. Hy was egter nie deel van die reddingspoging nie.

Luidens ’n verklaring deur die departement op Facebook het die band “ongetwyfeld baie ongemak” vir die dier veroorsaak.

Power sê dit is nie presies seker vir hoe lank die band om die olifant se nek vasgesit het nie.

“Dit kon ’n lang tyd gewees het, maar ek sal nie sê dit was langer as ’n jaar nie. Die olifant se kondisie het nie te sleg op foto’s en video’s gelyk nie.”

Die departement se beheerbeamptes van probleemdiere en ondersteuningspersoneel is Dinsdag gestuur om die olifant op te spoor en die band te verwyder.

Tydens die huidige inperking weens Covid-19 is ’n aantal operateurs op bystand vir sulke operasies, sê die departement op Facebook.

Dr. Paul Bartels, ’n veearts, en Tokkie Botes, ’n helikoptervlieënier van Flying for Freedom SA, is na die gebied ontbied.

Die span is verder bygestaan deur veldwagters van die Madikwe-wildreservaat en spanne op die grond en in die lug het saamgewerk om die olifant te vind.

Die olifant is taamlik gou gevind waar die mense hom laaste opgemerk het en hy is met ’n pyl verdoof.

Die Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme het inligting ontvang van ’n band wat om ’n olifant se nek verstrengel is. ’n Span is uitgestuur om die olifant van die voorwerp om sy nek te bevry. Foto: Facebook/Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme

Volgens Power is die band met ’n elektriese saag afgesny.

“Die span het vinnig gewerk om die band te verwyder wat waarskynlik die olifant se voeding beïnvloed het. Die operasie is binne enkele ure afgehandel,” sê die departement.

“Dié spesifieke groot boerdery het ’n klein trop olifante wat vryelik rondbeweeg en verbasend genoeg nog nooit in konflik met die naburige gemeenskappe was nie.”

Volgens die departement hou dit uitdagings in om sulke groot diere in klein gebiede te beheer.

“Klein plase wat in reservate omskep word, het dikwels items wat mense in die verlede gebruik het en soms plaas grondeienaars bande in erosie-dongas. Ons kan aanvaar dat hierdie olifant die band uit nuuskierigheid opgetel en dat dit in ’n afwaartse spiraalbeweging met sy slurp oor sy ore gegaan en om sy nek beland het.”

Power stel voor dat rommel wat rondlê dus verwyder word om die risiko van diere wat kan seerkry te voorkom.

’n Span kundiges bekyk die reuse-band om die olifantbul se nek. Dit is nie presies seker hoe lank dit om sy nek was nie. Foto: Facebook/Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme
Die span wat saamgewerk het om die band om die olifant se nek te verwyder. Foto: Facebook/Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme
Die olifant word medisyne gegee voordat die band om sy nek verwyder word. Foto: Facebook/Noordwes se departement van omgewingsake, bewaring en toerisme

Meer oor:  Olifant  |  Zeerust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.