Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Omgewing wen ronde 1’

“Die omgewing het hierdie slag gewen. Dit is goeie nuus in ’n land waar goeie nuus skaars is.”

So het Liziwe McDaid, strategiese ontleder van The Green Connection, gister gesê nadat die departement van omgewingsake, bosbou en visserye die drie omgewingsimpakstudies van die Turkse groep Karpowership verwerp het.

Die departement het gister in ’n verklaring gesê die omgewingsimpakstudies vir die Karpowership-kragskepe wat vir Saldanhabaai, Coega en Richardsbaai beplan word, is vol leemtes en in die meeste gevalle is die stemme van die gemeenskappe nie deur die omgewingskonsultant in ag geneem nie.

Die departement het veral klem gelê op die feit dat geen studie oor die onderwatergeraas wat die kragskepe sal veroorsaak, gedoen is nie.

Volgens die departement blyk dit ook dat die omgewingskonsultant die studies laat aframmel het sodat sy dit betyds by die departement kon indien.

Karpowership het onmiddellik na dié aankondiging ’n verklaring uitgereik en sê hy gaan teen die beslissing appelleer.

Karpowership het teen die departement te velde getrek en hom daarvan beskuldig dat hy hom laat lei het deur “ ’n waninligtingsveldtog wat deur spesiale belange gefinansier word”.

Kay Sexwale, Karpowership se Suid-Afrikaanse woordvoerder, sê diegene wat die veldtog teen Karpowership voer en die departement van omgewingsake, bosbou en visserye daarby ingetrek het, “is daarop uit om die departement van minerale bronne en energie se strategiese plan om beurtkrag en daarmee saam die land se ekonomiese en energiekrisis die hoof te bied, te laat ontspoor”.

Volgens Sexwale kan die drie projekte krag aan sowat 800 000 huishoudings voorsien.

“Suid-Afrikaners moet verstaan dat die besluit deur die departement van omgewingsake, bosbou en visserye die lewering van krag aan die land bedreig en dat beurtkrag dus nog baie jare verleng kan word.”

Sexwale hou vol ’n “volledige omgewingsimpakproses is gevolg” en Karpowership is vol vertroue dat sy appèl sal slaag.

Die departement van minerale bronne en energie het gistermiddag in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye se beslissing.

Volgens dié departement is Karpowership se drie projekte onder die 11 voorkeurprojekte (deur onafhanklike kragprodusente) vir die verskaffing van noodkrag in piektye wanneer Eskom noodgedwonge diesel vir die opwekking van elektrisiteit moet gebruik.

Karpowership het in Maart vanjaar ’n tender gekry om 1 220 megawatt (MW) krag op te wek. Volgens die departement kan Karpowership dié krag binne 12 tot 18 maande lewer. “Ons sal wag om van dié voorkeur­bieër te verneem voordat ons verdere kommentaar lewer.”

McDaid sê The Green Connection is bewus daarvan dat die verwerping van Karpowership se omgewingsimpakstudies nie die einde van die pad is nie.

“Ons dring daarom ook daarop aan dat die parlement dringend openbare verhore oor die tender aan Karpowership sal hou.

“Ons doen ook ’n beroep op die parlement om ’n ad hoc-komitee aan te stel om alle kwessies oor Karpowership te ondersoek. As daar enige aanduidings is dat amptenare nalatige of swak besluite geneem het, moet hulle voor stok gekry word.

  • “Dit is kommerwekkend dat die parlement net tevrede is met voorleggings deur die departement van minerale bronne en energie, terwyl die kommer van gewone mense oor hierdie tender nie gehoor word nie,” sê sy. Verskeie nieregeringsorganisasies het kragte saamgesnoer en vir die omgewing geveg, sê Avena Jacklin van ground­Work.

The Green Connection het onlangs ’n klag by die departement van omgewingsake, bosbou en visserye ingedien oor die omgewingsimpakstudie vir Karpowership se Saldanha-projek.

GroundWork het prokureurs by die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) aangestel om klagtes oor die omgewingsimpakstudies by Coega en Richardsbaai by die departement in te dien.

Meer oor:  Omgewing  |  Kragskepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.