Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Omvattende verslag skets somber prentjie van natuur

1 miljoen plant- en dierspesies huiwer op die rand van uitsterwing omdat die natuur weens verskeie faktore, onder meer ekonomies gedrewe kwessies, teen ’n ongekende tempo agteruitgaan.

Dit is die gevolgtrekking van 145 deskundige outeurs, waaronder natuurwetenskaplikes vanuit 50 lande, in die tussenregerings- wetenskapsbeleid-platform vir biodiversiteit en ekosisteemdienste (Ipbes) se jongste wêreldwye verslag oor die stand van die natuur.

Die beknopte verslag, wat beskryf word as die omvattendste tot nog toe, is gister in Metz in die noordooste van Frankryk vrygestel. Ipbes sê die res van die verslag, wat sowat 1 500 bladsye beslaan, sal later vanjaar in sy geheel vrygestel word. Al die medewerkers het drie jaar lank aan die verslag gewerk. Dit het voortgebou op die Millennium Ecosystem Assessment- verslag wat in 2005 uitgereik is.

Die verlies aan biodiversiteit is nie net ’n kwessie wat die natuurlike omgewing raak nie, maar dit raak ook die wêreld se ekonomie, ontwikkeling en mense se veiligheid.

Sir Robert Watson, voorsitter van Ipbes, het tydens die bekendstelling wat regstreeks op die internet uitgesaai is, gesê die welstand van ekostelsels waarvan alle spesies vir hul voortbestaan afhanklik is, is besig om weens menslike aktiwiteit vinniger as ooit agteruit te gaan. “Die mens kalwe die fondasie uit waarop ons ekonomie, lewensmiddele, voedselsekerheid, gesondheid en lewensgehalte gebou is.”

Hy sê dit is nie te laat om die situasie te beredder nie, maar dan sal ’n algehele transformasie: tegnologies, polities, sosiaal en ekonomies moet plaasvind. “Ons benodig ’n paradigmaskuif in mense se waardestelsels en in hul doelwitte.”

Verteenwoordigers van Ipbes se lidlande (wat hoofsaaklik uit ministers van omgewingsake bestaan) het konsensus bereik dat die gewenste transformasie op alle vlakke van die samelewing groot teenstand gaan uitlok van diegene met gevestigde belange. “Dié teenstand sal oorkom moet word ter wille van die voordeel van almal op aarde,” sê Watson.

Luidens ’n verklaring deur Ipbes is dit die eerste keer in die geskiedenis wat omvattende inligting bekom is van inheemse gemeenskappe en dat hul kennis in die verslag opgeneem is.

Die verlies aan biodiversiteit is nie net ’n kwessie wat die natuurlike omgewing raak nie, maar dit raak ook die wêreld se ekonomie, ontwikkeling en mense se veiligheid. “Dit is ook ’n morele en sosiale kwessie.”

Watson het jong stemme soos dié van Greta Thunberg, Sweedse tiener wat die skoolstakings vir die klimaat begin het, tydens die webuitsending geloof.

Ander bevindings wat in die verslag opgeteken is, is onder meer:

*75% van die wêreld se grondgebied en 66% van die oseaan is reeds “ernstig” deur menslike aktiwiteit verander. Die invloed wat inheemse volkere op hul grondgebied het, is baie minder opsigtelik.

*Meer as 33,3% van die wêreld se grondgebied en byna 75% van alle varswater word gebruik vir die besproeiing van landbougewasse. Die produksie van gewasse het sedert 1970 met 300% toegeneem.

*In 2015 is 33% van alle vis reeds só uitgevang dat die kanse skraal is dat die bevolkings gaan herstel.

*Stedelike gebiede het sedert 1992 in omvang verdubbel.

Plastiekbesoedeling het sedert 1980 tienvoudig toegeneem.

*300-400 miljoen ton besoedelde water word jaarliks in varswaterbronne gestort. Onder die besoedelstowwe is kunsmis, onkruid- en insekdoders.

*Hierdie besoedelde vars water, wat deur riviere seewaarts vloei, het aanleiding gegee tot 400 dooie sones in die oseaan. Dit is sowat 245 000 km².

*616 multinasionale maatskappye is tans in 171 lande besig met grootskaalse mynbou.

*In die oseaan is daar tans 6 500 bore wat olie en gas uitpomp of daarna soek.

Die opstellers van die verslag stel voor dat

*natuurreservate drasties in grootte uitgebrei word,

*marienebewaringsgebiede vergroot word; en

*beleidmakers en wetstoepassers nou met verbruikers en vervaardigers van goedere saamwerk om te voorkom dat afval en besoedelstowwe in riviere en uiteindelik in die see beland.

Meer oor:  Omgewing  |  Verslag  |  Natuur  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.