Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Ongekende reënval op pad na Limpopo’ – kenner
Skade aan strukture in ’n woongebied in Beira in Mosambiek. Foto: Twitter/World Meteorological Organisation

Die tropiese sikloon Eloise, wat reeds Saterdag vir Beira in Mosambiek getref het, het sedert Saterdagmiddag om omstreeks 12:00 groot hoeveelhede reën meegebring.

Dit nadat sy oor die afgelope 48 uur tonne vog uit die Mosambiek-kanaal opgeneem het.

So sê dr. Gideon Groenewald, met meer as 40 jaar se ervaring as paleontoloog, hidroloog en geoloog.

Hy het Saterdagaand aan Netwerk24 gesê hy voorspel vir Sondagmiddag geweldige hael- en donderstorms oor Limpopo, wat sal uitsak as gevolg van onstabiliteit in die bolug. Volgens hom was daar laas in 1988 weersomstandighede op dié skaal in Limpopo.

“Ouer mense sal onthou, maar die jonger geslag het nog nie in hul leeftyd soveel reën gesien soos wat van Sondag omstreeks 10:00 tot Maandagoggend 04:00 gaan val nie.

“Dit gaan die Limpoporivier in geweldige vloed laat afkom van omtrent Dinsdagoggend af,” sê hy. “Teen Dinsdag sal al die boere langs die Limpoporivier hul pompe uit die rivier moet hê, tensy hulle nie omgee dat die goed wegspoel nie.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Saterdagmiddag op Twitter gesê weens ’n verswakking in windspoed is die sikloon – wat eers begin het as ’n tropiese sikloon en toe afgegradeer is na ’n matige tropiese storm – verder afgegradeer na ’n laagdrukstelsel omdat die windspoed afgeneem het tot 55 km/h.

Saterdag het die weerdiens gesê die windspoed was ongeveer 160 km/ph toe Eloise die land getref het.

“Sy gaan baie wydverspreide, hoë reënval oor Limpopo veroorsaak, wat ons natuurlik verwag met die El Niño-weerpatroon. Aan die einde van droogtes kry ons hierdie geweldige vloede en dit is nou maar een van hulle,” sê Groenewald. “Die klimaat is reg vir die siklone om nou in te kom.

“Ons moet onthou ons is in ’n La Niña-jaar, so ons gaan heel moontlik tot en met April elke twee weke een van dié stelsels hê wat massas en massas water in die Limpoporivier instort.

“Die Limpoporivier behoort êrens hierdie jaar, tussen nou en April, oor sy walle te klim.”

‘Ligte skade’ in Beira

“Daar is ligte skade aangerig in dele van Beira, maar dit is nog te vroeg om die omvang te bepaal,” het Luisa Meque, president van die Nasionale Instituut vir Ramprisikobestuur-en-vermindering (INGD), in Mosambiek gesê in ’n televisie-onderhoud met die nasionale uitsaaier TVM, berig Reuters.

Voertuie staan in diep water ná die hewige reënval in Beira, Mosambiek. Foto: Twitter/UNICEF Moçambique

Foto’s uit die stad wys hoe geboue beskadig is nadat dakplate afgewaai het, en hoe voertuie in water staan. Ook plattelandse woongebiede is onderwater en huise oorstroom.

’n Kind staan Saterdag in die vloedwater in Beira, Mosambiek. Foto: Twitter/UNICEF Moçambique

Die Nasionale Instituut vir Meteorologie in Mosambiek (INAM) sê in ’n verklaring hy hou die weer dop en wanneer omstandighede dit regverdig, sal hy waarskuwings uitreik.

’n Oorstroomde gebied by Beira in Mosambiek. Foto: Twitter/Twitter/World Meteorological Organisation

“Inwoners word versoek om voort te gaan om die inligting, die weervoorspellings en die waarskuwings dop te hou wat deur die nasionale owerhede uitgereik word,” lui die INAM-verklaring.

Die Polokwane-munisipaliteit het Vrydag in ’n verklaring mense aangeraai om sover moontlik binne te bly en paaie te vermy tydens die storm oor die naweek.

“Sterk wind en reën wat gewoonlik met sulke storms gepaardgaan, kan skade aan paaie, stormwater- en elektriese infrastruktuur veroorsaak, wat uiters gevaarlik vir die publiek kan wees,” sê die munisipaliteit.

“Die weerdiens voorspel winderige toestande in die meeste gebiede van Limpopo, en waarsku dat bome kan omwaai en huise beskadig kan word, veral in die landelike gebiede. Die onderbreking van die kragtoevoer en die sluiting van hoofbrûe en paaie word ook verwag.”

Rampbestuur staan reg

Die provinsiale rampbestuurstrukture in Limpopo is op ’n gereedheidsgrondslag vir wanneer Eloise van Sondag af die distrikte Vhembe, Capricorn, Sekhukhune en Mopani tref.

“Distrikte het hul gesamentlikeoperasiesentrums geaktiveer om vinnig enige moontlike gebeure te hanteer. Alle rolspelers is gereed om te help: die kantoor van die premier, die polisie, die weermag, die departemente van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en openbare werke, die Rooi Kruis-vereniging, Eskom en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering.”

Groenewald sê omdat die sikloon nou in ’n laagdrukstelsel verander het, sal winde tussen 15 km/h en 20 km/h wees. “Maar rukwinde, dwarrelwinde of stormwinde kan in valleie voorkom.” Hy raai mense aan om tot Dinsdag by die huis te bly, van brûe af weg te bly en uit die dorp uit te bly, wanneer die reënbuie sal opklaar.

Hy sê die laagdrukstelsel sal deur die loop van Dinsdag na verwagting op koers na Botswana verswak en heeltemal wegbeweeg. “Dan gaan ons maar terug na normale reënval, wat swaar gaan wees as gevolg van die feit dat ons in ’n baie nat siklus inbeweeg.”

Talle weerkenners het daarop gewys dat daar boonop ’n kouefront van Antarktika af na die Kaap toe op pad is.

“My kaarte toon dit sal suid van die Kaap verbybeweeg,” sê Groenewald. “As dit sou inkom, sal dit ’n totale uitskieter-kouefront wees as gevolg van die sikloniese laagdrukstelsel wat oor suidelike Afrika ontwikkel. Hy kan ingesuig word, en dit kan teen Vrydag baie ysige weer oor die Wes-Kaap bring. Dit sal ongehoord wees vir die somer.”

Hy sê ander provinsies soos Gauteng, Mpumalanga en Noordwes kan ook reën verwag oor die volgende drie weke, nie as gevolg van Eloise nie, maar weens die La Niña-weerverskynsel in die Indiese Oseaan.


Meer oor:  Mosambiek  |  Limpopo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.