Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Ons kyk nou na ander veilige hawe vir ons leeus’

Jan Creamer, direkteur van die reddingsorganisasie Animal Defenders International (ADI), gaan “alles in haar vermoë doen” om die oorblywende 27 sirkusleeus wat tans in die Emoya-reservaat naby Vaalwater in Limpopo versorg word, terug te kry.

Creamer het Donderdag in Londen gesê die vrekte van ses leeus die afgelope net meer as twee jaar op Emoya het haar só getraumatiseer dat sy haar stem vir ’n week verloor het.

“Ek dink nie ek sal dit ooit kan verwerk nie. Die leeus behoort steeds aan ADI. Ons betaal al hul onkoste – dit sluit kos en veeartsbehandeling in.

“Ons het ’n ooreenkoms met Emoya dat ons die leeus enige tyd kan terugkry as ons meen hulle word nie goed versorg nie.”

Volgens haar is die leeus kort na hul aankoms op Emoya vrot kameelperdvleis gevoer. Dit het vier van die leeus siek gemaak. Twee het oorleef en twee wyfies is later aan lamsiekte dood.

Maande later is twee van die leeus deur stropers van kant gemaak. Hul koppe, pote en vel is afgesny.

Die halfblinde Josef het onlangs gevrek en nog ’n wyfie het op Kersdag verlede jaar gevrek nadat sy ’n bytplek opgedoen het.

Volgens Creamer voldoen Emoya nie aan die veiligheidstandaarde wat ADI aan Minuette Heuser en haar dogter, Savannah, die eienaars, gestel het nie.

Ons wil ons eie veilige hawe in Suid-Afrika op die been bring. Ons het reeds ’n plek in gedagte. Ek kan nie nou al daaroor praat nie.
Jan Creamer, direkteur van die reddingsorganisasie Animal Defenders International (ADI).

Derek Jooste, woordvoerder van Emoya, het ontken die leeus word verwaarloos en dat die veiligheid op Emoya nie aan die hoogste standaarde voldoen nie. Jooste het ook ontken dat die kameelperdvleis wat aan die leeus gevoer is, vrot was.

“Die leeus het weens jarelange mishandeling nie ’n behoorlike immuunstelsel opgebou nie. Hulle het nie in Afrika grootgeword nie en is in sirkusse gebore. Hulle het dus geen weerstand teen enige infeksies nie.”

Volgens hom was die dood van die ses leeus vir Heuser “net só ’n traumatiese ervaring”.

Creamer sê dit het ADI langer as 10 jaar geneem om dié 33 leeus uit sirkusse in Peru en Colombië te red. “Dit het ons meer as $2 miljoen gekos om die leeus uit die sirkusse te kry en na Suid-Afrika te bring.”

ADI het sedert hul hervestiging R9 miljoen betaal vir die dienste van veeartse en vir hul kos.

“ADI is geheel en al van skenkergeld afhanklik. Dit is dus ons plig om toe te sien dat die leeus behoorlik versorg word. Ons moet gereeld terugvoering gee oor die toestand van die leeus. In hierdie stadium het ek geen goeie nuus vir ons weldoeners nie.”

Volgens haar is ADI besig om na ’n ander veilige hawe vir die leeus in Suid-Afrika te kyk.

“Ons wil ons eie veilige hawe in Suid-Afrika op die been bring. Ons het reeds ’n plek in gedagte. Ek kan nie nou al daaroor praat nie.”

Die siviele geding tussen Emoya en ADI word aanstaande week in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor.

Meer oor:  Vaalwater  |  Bewaring  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.