Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Onwettige handel maai spesies af

Die Chinese bedryf van tradi­sionele medisyne brei baie vinnig wêreldwyd uit as ’n sleutelpilaar van dié land se sogenaamde Gordel-en-pad-inisiatief, ’n byna wereldwye ontwikkelingstrategie, maar bewaringsgroepe sê die vraag na behandeling met diereprodukte vuur ’n toename in onwettige handel in wild aan.

Sedert begin vanjaar het owerhede in die Chinese deel van Hongkong op ’n rekordgetal bedreigde spesies beslag gelê. Dit sluit in 8,3 t ietermagôskubbe van bykans 14 000 ietermagô’s, asook die grootste vrag tot nog toe van renosterhorings van meer as $1 miljoen (sowat R14,7 miljoen).

’n Baba-ietermagô wat amper gesmokkel is.

Hongkong is een van die wêreld se primêre afsetpunte vir handel in wild waar ’n verskeidenheid van produkte, soos haaivinne, dele van tiere en renosterhoring, oor Asië na China versprei word.

“Een van die ontstellendste eienskappe van handel in wild is die toenemende gebruik van bedreigde spesies in tradisionele medisyne,” sê die bewaringsgroep ADM Capital Foundation in ’n onlangse verslag.

Dié groep het die Chinese medisynebedryf geïdentifiseer as verantwoordelik vir meer as driekwart van die handel in produkte van bedreigde spesies in Hongkong die afgelope vyf jaar.

China se staatsraad het ’n plan uitgewerk om oor dekades heen tradisionele medisyne te bemark, insluitend om hospitale, museums, medisinale dieretuine en botaniese tuine op te rig in lande wat betrokke is by die Gordel-en-pad-infrastruktuurplan.

Die bedryf is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sowat $60 miljard per jaar werd en volgens IbisWorld groei dit teen sowat 11% per jaar. Die WGO sê hy sal tradi­sionele medisyne in sy kompendium in Mei opneem, wat beteken praktyke wat meer as 2 500 jaar terug dateer sal meer hoofstroomerkenning kry.

Terwyl baie praktisyns die gebruik van bedreigde spesies vermy, sê omgewingsgroepe tradisionele geneesmiddels wat skaars diere insluit, is steeds baie gewild in Viëtnam en China, waar hulle dit gebruik vir talle siektes, van kanker tot velkwale en babelaas.

Spesies soos ietermagô’s, renosters, seeperdjies, maanbere en tiere is sommige van die spesies wat kritiek bedreig word deur dié handel, sê bewaringsorganisasies.

Zhoe Jinfeng, sekretaris-generaal van China se stigting vir die bewaring van biodiversiteit en groenontwikkeling, sê die WGO moet volhoubaarheid en wetenskap as voorwaardes gebruik om tradisionele Chinese medisyne in sy kompendium op te neem.

“Alle medisinale behandeling behoort op die beginsel van ‘doen geen skade nie’ wees deur hulle wat dit gebruik of maak en teenoor die spesies waarvan hulle afhanklik is,” sê Zhoe met verwysing na Chinese medisyne.

Insluiting in die kompen­dium beteken nie die WGO bevestig die wetenskaplike geldigheid van tradisionele medisyne nie of dat dit die gebruik van dieredele aanbeveel of afkeur nie, sê Tarik Jašarevi, WGO-woordvoerder. – Reuters

‘Chinese regering moet verbied’

Die Hongkongse wetgewer Elizabeth Quat sê die verbod op die vervaardiging van tradisionele Chinese medisyne, wat be­dreigde spesies soos ietermagôskubbe en haaivinne insluit, moet van die Chinese regering kom. 

“Die Chinese regering moet iets doen. Vervaardiging is hoofsaaklik in China. Die regering moet die produksie daarvan stopsit,” sê sy.

Klante kan op Chinese aanlyn forums enigiets van renosterhoring uit Afrika tot lewende jong ietermagô’s en verpoeierde horings van saiga, ’n bedreigde soort wildsbok van Europa en Asië, koop.

China verbied die gebruik van renosterhoring.

Die plaaslike regering het permitte aan maatskappye  soos Kangmei Pharmaceutical en Tong Ren Tang toegestaan  om medisyne van ietermagôskubbe en saigahorings te maak, lui maatskappyverslae.  – Reuters 

Meer oor:  Omgewing  |  Renosterhorings  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.