SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Omgewing
Onwettige myners plunder park in Richtersveld

Sanparke doen ’n dringende beroep op die diamantreus Trans Hex om die orde te herstel by die Richtersveld Nasionale Park in die Noord-Kaap omdat mynboubedrywighede in en om dié park “handuit geruk” het.

In ’n brief aan Marco Wentzel, uitvoerende hoof van Trans Hex, skryf Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van Sanparke, dié bewaringsorganisasie is baie bekommerd oor die huidige plundering van die omgewing. Dit bedreig nou ook die veiligheid van besoekers en werknemers van Sanparke.

Mketeni skryf Sanparke is nie gekant teen “die georganiseerde, goed gereguleerde myn van diamante op klein skaal (binne dié park) nie”, maar daar heers nou ’n atmosfeer van “vyandigheid” teenoor werknemers en besoekers.

Die Richtersveld Nasionale Park is deel van die oorgrenspark bekend as die Ai-Ais/Richtersveld Oorgrenspark. Die Ai-Ais-deel val in Namibië.

Netwerk24 verneem Trans Hex is in die proses om sy mynreg aan Lower Orange River Diamonds­ en Plateaux Diamonds te verkoop. Die koop is glo nog nie geregistreer nie. Trans Hex het hom intussen aan die gebied onttrek en sy bedrywighede is glo gesluit.

’n Betroubare bron sê Trans Hex is nog die houer van die mynreg en daarom verantwoordelik vir die rehabilitering van die omgewing. Trans Hex is ook verantwoordelik vir die herstel van orde by sy ou mynbedrywighede.

Intussen het chaos glo uitgebreek deurdat etlike honderde mense nou in en om die park vir diamante begin myn het.

Intussen het chaos glo uitgebreek deurdat etlike honderde mense nou in en om die park vir diamante begin myn het.

Mketeni skryf Sanparke het die verantwoordelikheid om sy toegangshekke veilig te hou. Dit is ook Sanparke se plig om te sorg dat sy werknemers en besoekers veilig is. Die situasie het nou so vyandig geword dat dit besoekers en werknemers se lewe in gevaar stel.

Volgens Mketeni is daar sedert Oktober vanjaar ’n “sigbare toename” in onbekende voertuie wat die Richtersveld Nasionale Park binnekom en binne-in die park rondry. Volgens hom het ooggetuies drie voertuie met 15 mense daarin in September die park sien binne-ry. Die mense het na die noordwestelike deel van die park gery, by ou myngebiede bymekaargekom en sonder permitte begin delf.

Sanparke, lede van die polisie en veiligheidspersoneel het op 11 Oktober probeer om die onwettige mynwerkers uit die park te verwyder. Hulle het nie daarin geslaag nie.

Op 17 Oktober het ses gewapende mans toegang tot die park verkry. Bestuursperso-neel van Sanparke het hulle glo probeer keer, maar die mans het hulle met vuurwapens gedreig.

Weens die huidige vyandige omstandighede het Sanparke se personeel hulle geheel en al aan die mynbougebied binne-in die park onttrek.

Twee dae later het sowat 30 voertuie met 240 woedende mense Sanparke se kantore in die Richtersveld omsingel en die personeel uit die gebou gedwing. Die mense is ook gedreig.

“Weens die huidige vyandige omstandighede het Sanparke se personeel hulle geheel en al aan die mynbougebied binne-in die park onttrek.”

Mketeni skryf voorts dit is nou byna onmoontlik om die toegangshekke na die park te kontroleer en veilig te hou.

Hy wys daarop dat die onwettige mynbou aan die noordwestelike dele van die Oranjerivier plaasvind.

Hy spreek sy kommer daaroor uit dat die onwettige mynwerkers die “ongerepte rivier” as ’n toilet gebruik omdat daar geen sanitasiegeriewe in dié deel van die park is nie. Boonop gooi die mense hul afval oral in die park rond.

Inheemse bome word afgekap vir vuurmaakhout.

Die onwettige mynwerkers was gruis in die riviere en dit bedreig die integriteit en ekologie van die rivier.

Swaar metale beland nou ook in die rivier, skryf hy.

Netwerk24 het met verskeie werknemers by Trans Hex se hoofkantoor gepraat. Niemand wou hul name of e-posadresse verskaf nie of op navrae reageer nie.

Niemand van Sanparke was vir kommentaar beskikbaar nie.

Die brief is reeds op 7 Desember aan Trans Hex gestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.