Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Oorstroming rig groot skade aan in Badplaas-oord
Die Badplaas-vakansieoord is Vrydag oorstroom. Foto: Christine Keyser Fourie / Facebook
Woonwaens en voertuie staan vasgekeer in ná ’n kitsoorstroming in die Badplaas-vakansieoord in Mpumalanga. Foto: Christine Keyser Fourie / Facebook
Foto: Heidi Halgryn / Forever Resorts

Groot skade is aangerig toe die gewilde Badplaas-vakansieoord in Mpumalanga ná swaar reën oorstroom het.

Niemand is beseer nie, sê Heidi Halgryn, hoof van Forever Resorts se bemarkingsafdeling, nadat sy die oord Vrydag besoek het.

Sowat 100 mm reën het omstreeks 11:00 in ’n tydperk van 80 minute in die omgewing geval.

“Ons vermoed ’n damwal het iewers gebreek en saam met die swaar reën het dit ’n kitsoorstroming veroorsaak,” sê Halgryn.

Sy sê die spruit wat deur die oord loop, het teen 13:00 in strome afgekom.

Die hidro, wat die natuurlike warmwaterbron in die oord is, en die warmwaterswembad, is heeltemal verwoes.

“Dit is baie hartseer . . . ons het pas die hidro oorgedoen.

“Dit was nie nodig om van die gaste uit die gebied te verwyder nie. Ons het wel seker gemaak ons gaste is veilig. Niemand het seergekry nie.

“Die hidro en warmwaterswembad, wat die ergste deurgeloop het, is ver van die kampeerplek.”

Thomas Evje het ’n video-opname gemaak van die oomblik toe die hidro-swembad oorstroom het. In die video kan paniekbevange mense gehoor word wat vra dat die mense wat nog in die water is, gehelp word.

Die groot warmwaterswembad in die oord is beskadig. Foto: Heidi Halgryn / Forever Resorts
Opdrifsels in die Badplaas-vakansieoord in Mpumalanga.Foto: Heidi Halgryn / Forever Resorts
Vensterruite het in die slag gebly toe ’n kitsoorstroming die oord getref het. Foto: Heidi Halgryn / Forever Resorts

“Oorstromings terwyl ons geswem het in die warm poele. Ons het net betyds uitgeklim toe die oorstromings die vensters gebreek het,” lui Evje se inskrywing op sy Facebook-blad.

Andrew Kennedy het sy familie laat weet hulle is veilig.

“Badplaas-oord het groot skade gehad na ’n vreeslik nare storm. Hidro is weg, botaniese tuin weg, warmwaterswembad weg,” skryf Kennedy op Facebook.

Halgryn sê die brûe wat na die oord lei, het ook oorstroom, maar teen laatmiddag was dit weer oop vir motorverkeer. Nuwe gaste het die middag opgedaag.

“Ons het vir die gaste, wat reeds hier was, gesê ons sal verstaan as hulle wil gaan, maar hulle bly. Van die gaste het selfs kom vra of hulle kan help opruim,” sê Halgryn.

Teen Vrydagmiddag laat het die hotel nog nie water gehad nie, maar daar was elektrisiteit.

“Dankie, Abba Vader, dit reën in Badplaas, nou al vir die afgelope twee ure so,” het Alta Ziervogel by hierdie foto van haar geskryf op Facebook. Foto: Alta & Carl Ziervogel / Facebook
’n Rivier wat deur die oord vloei, is in vloed.Foto: Verskaf
Die warmwaterhidro, wat die oord se onderdakswembaddens en die rumatiekbad huisves, is verwoes.Foto: Heidi Halgryn / Forever Resorts

Die oord se spa en kouewaterswembaddens was Vrydagmiddag nog gesluit, maar sal na verwagting Saterdag weer gebruik kan word.

Twee konserte in die oord se arena, vir Vrydag en Saterdag, is gekanselleer.

“Ons is bang die gaste gly op die nat gras en kry seer. Die veiligheid van ons gaste is ons eerste prioriteit,” sê Halgryn.

Bok van Blerk sou Vrydagaand optree.

“Ek hoor en sien Badplaas Forever Resort spoel weg... Ons is al amper daar, maar verneem nou tot ons spyt dat vanaand se vertoning gekanselleer is. Sterkte met die opruim en aan almal wat skade gely het,” het Van Blerk op Twitter geskryf.

* Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het teen druktyd geen amptelike reënvalsyfers beskikbaar gehad vir die gebied waar die oord geleë is nie.

Meer oor:  Oorstromings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.