Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Op die mens se spoor in Antarktika

Vir die eerste keer sedert Antarktika 200 jaar gelede ontdek is, het wetenskaplikes die omvang van menslike bedrywighede op dié afgeleë vasteland gemeet en aangeteken.

Dr. Bernard Coetzee van die Global Change Institute van die Universiteit van die Witwatersrand het Maandag gesê baie mense dink Antarktika is ’n ongerepte, onherbergsame vasteland wat heeltemal met ys bedek is.

’n Toeris by Hardy Cove in Antarktika. Hardy Cove vorm deel van die Suid-Shetland-eilande in die Antark-tiese Skiereiland. Foto: Steven Chown

Daar was egter die afgelope twee eeue baie menslike aktiwiteit. Byna twee derdes van die gebied toon ’n duidelike menslike voetspoor, sê hy.

’n Multidissiplinêre navorsingspan van Suid-Afrika, Au­stralië, Nieu-Seeland en Nederland het die kaart saamgestel.

Dit sluit ook die dele in wat wel nog ongerep is.

Vir die navorsers van Wits, onder leiding van wetenskaplikes van die Monash-universiteit (MU) in Melbourne, Australië, was die groot uitdaging om vas te stel presies waar die menslike aktiwiteit plaasgevind het en steeds plaasvind en wat dit behels.

Die navorsers het met behulp van rekords wat van 1819 tot 2018 gehou is, 2,7 miljoen menslike aktiwiteite op Antarktika nagegaan en dit op die kaart aangeteken.

’n Toergeselskap onderneem ’n besoek aan die Bruin Stasie. Hierdie stasie word deur Argentinië bestuur en is op die Antarktiese Skiereiland geleë. Dit is een van die gebiede wat die afgelope tyd al meer besoek word. Foto: Steven Chown
’n Weddell-rob (Leptonychotes weddellii) lê op die sneeu in die son. Antarktika huisves groot biodiversiteit wat baie sensitief is vir enige veranderinge. Foto: Steven Chown

Die vroeë bedrywighede was die jag van robbe en walvisse.

Met die uitsondering van die groot ysbedekte sentrale deel van Antarktika was mense al feitlik oral op die vasteland, veral aan die kusgebiede, waar minder ys en sneeu voorkom, sê Coetzee.

Die grootste biodiversiteit kom ook in daardie gebiede voor. Daar is baie voëlspesies, pikkewyne, robbe en ander seelewe.

Die meeste navorsingstasies is gebou op plekke waar die meeste biodiversiteit is en die gevolg is dat die meeste menslike aktiwiteit ook daar voorkom.

Hy wys daarop toerisme na Antarktika is ook besig om te groei. Dít het ook ’n voetspoor omdat plastiek en uitheemse spesies daarheen gebring word.

Rachel Leihy, wat haar doktorale navorsing aan die Monash- skool vir biologiese wetenskappe doen, sê hoewel die menslike impak reeds groot is, wys die navorsingskaart daar is wel nog ’n geleentheid om groot dele van Antarktika te beskerm.

Volgens die MU-navorser Steven Chown sal die navorsing die partye wat navorsingstasies in Antarktika bedryf, help om nuwe bewaringsgebiede vir die vasteland te bepaal.

Navorsers sal dan nie daardie gebiede kan betree nie en van byvoorbeeld hommeltuie en satelliete gebruik moet maak.

  • In 1957 het 12 lande 60 navorsingstasies op Antarktika gebou. Dit was die begin van internasionale samewerking op die vasteland.

Die Antarktiese ooreenkoms is in 1961 gesluit.

Meer oor:  Antarktika  |  Kaart  |  Toerisme  |  Mense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.