Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Oud-Stormer red renosters

Sy lyf is dalk in Amerika, maar die oud-Stormer Joe Pietersen se hart is steeds in Suid-Afrika en by die bewaring van Afrika se natuurlewe.

Joe Pietersen lê langs ’n leeu.

Hy is al jare aktief betrokke by bewaringsprojekte en in 2015 het hy ’n bewaringsprojek, Nkombe Rhino, in die Hoedspruit-gebied geregistreer. Nkombe Rhino help om bedreigde spesies te beskerm en ondersteun eenhede teen wildstropery.

Hulle neem ook gaste op safari na Botswana en onder meer na hul tente-lodge naby die Krugerwildtuin.

Pietersen het onlangs foto’s van homself tydens ’n operasie om renosters te onthoring op sosiale media gedeel. Hy sê hy gebruik sy tyd in Amerika, waar hy ’n vierde seisoen Major League Rugby speel, nie net om te speel en af te rig nie, maar ook om die Amerikaners te oorreed om by wildbewaring in Suid-Afrika betrokke te raak of ten minste hierheen te reis. “Dit gee my die geleentheid om mense regtig te irriteer oor hoe wonderlik Suid-Afrika is, hulle op te voed en daardie kant toe te stuur.”

Hy het in die buiteland ontdek hoe groot die belangstelling is om op wildsafari’s in Afrika te gaan. Hy en sy broer, Willem, het toe sulke reise vir mense begin reël.

“Wat ’n bietjie anders is, is dat ons hulle aktief by ’n bewaringsprojek betrek, en dit is een van die maniere waarop ons ook ’n bietjie geld insamel, maar terselfdertyd gee ons hulle ’n ervaring wat andersins nie beskikbaar sou wees nie.”

Sy liefde vir die natuur het hy ontdek tydens sy kinderjare, toe die gesin dikwels na Botswana, die Kalahari en Namibië gereis het. Volgens Pietersen is die veldtog om renosters te beskerm ook voordelig vir ander bedreigde spesies, wat in die proses ook teen stropers beskerm word.

“En in die groter plan bevoordeel dit ons almal as ’n gemeenskap. Daardie diere lok mense na Suid-Afrika. Een van ons groot troefkaarte is die Groot Vyf, natuurlewe en ons safari-ruimtes.”

Volgens die departement van omgewingsake, bosbou en visserye is 394 renosters verlede jaar in Suid-Afrika vir hul horing gestroop. Dit is 33% minder as die 594 wat in 2019 geslag is en is die sesde jaar dat renosterstropery afgeneem het.

Sedert die inperking opgehef is, was daar egter weer ’n beduidende toename in stropery in die Krugerwildtuin. Pietersen sê statistieke kan misleidend en selfs gevaarlik wees. Daar is minder renosters om te stroop en dit neem stropers dus langer om dieselfde “beloning” te kry.

“Dit is eintlik gevaarlike statistieke, want dit beteken dat ons renosters opraak.”

Meer oor:  Joe Pietersen  |  Renosters  |  Wildbewaring  |  Natuurbewaring  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.