Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Paartjie koop plaas vir bewaring
Nicky Souness en Jasper stap in die veld. Foto: Hannah Edwards

Vir die kritiek bedreigde oewerkonyn-bevolking tussen Barrydale en Montagu in die Wes-Kaap kan daar binnekort effense verligting kom.

Die plaas Silflay in die Renosterveld sal hopelik binnekort amptelike status as natuurreservaat van die Wes-Kaapse provinsiale natuurbewaringsagentskap CapeNature en die LUR bekom.

Die Silflay Renosterveld-natuurreservaat, soos dit dan bekend sal staan, sal nie vir die publiek oop wees nie, maar ’n veilige tuiste vir talle bedreigde spesies bly.

Enkele spesies wat daar voorkom, is oewerkonyne, luiperds, grys reebokke, bloukraanvoëls, sekretarisvoëls en talle unieke plante.

Die natuurreservaat

Die Souness-egpaar, dr. Colin (38), ’n glasioloog en helikoptervlieënier, en sy vrou, Nicky (35), ’n fotograaf, toergids en natuurliefhebber, werk op toerismeskepe in Antarktika. Hulle het dié plaas, waarop reeds 20 jaar lank nie meer geboer word nie, twee jaar gelede gekoop.

Nicky en Colin Souness met Jasper toe hy nog ’n jong hondjie was. Foto: Nicky en Colin Souness

Die vorige eienaar wou die grond, aangrensend tot die Sanbona-natuurreservaat, bewaar.

Die dood van Nicky se broer Jono Silberbauer (34) in 2017, ook ’n natuurliefhebber, het die paartjie weer oor hul lewenskeuses laat besin. Hulle wou ’n wesenlike verskil maak en het besluit om ’n ekostelsel in die Renosterveld vir komende geslagte te help bewaar.

Net wetenskaplikes wat die bioom ondersoek, word op die plaas verwelkom.

Sy sê die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) help hulle om die grond as natuurreservaat te laat verklaar.

Talle spesies op die eiendom is endemies tot die gebied en die Sukkulente-Karoo het danksy die talle bolplantspesies een van die mees diverse ekostelsels in die wêreld.

Snuffelhonde bring hul kant

Die EWT ondersteun hul pogings om die natuur te bewaar en Esther Matthew van die EWT help om hul hond, Jasper, op te lei.

Netwerk24 het voorheen berig oor die oud-Bloemfonteiner en navorser Matthew en haar hond, Jessie, wat help om bedreigde spesies uit te snuffel.

Lees ook: KYK: Hond snuffel kritiek bedreigde konyne uit

Jessie het verlede Dinsdag sewe jaar oud geword.

Nicky Souness (links) sit by Jasper en Esther Matthew saam met Jessie. Foto: Colin Souness

Weens die reisbeperkings tydens die koronaviruspandemie het Matthew hulle op WhatsApp-video’s gewys hoe om Jasper met teesakkies te leer snuffel.

Twee weke gelede kon Matthew wel van die Nama-Karoo in Loxton in die Noord-Kaap na die plaas in die Wes-Kaap reis om Jasper te ontmoet en sy opleiding voort te sit. Jasper se opleiding vorder goed en hy kan reeds verskillende reuke uitsnuffel.

Jasper sal in die toekoms kan help bepaal of spesifieke spesies in gebiede op Silflay voorkom.

Dit sal vir Jasper makliker as vir Jessie wees om in die Wes-Kaap te werk omdat hy die endemiese plantegroei en wildlewe se reuke beter sal ken. Jessie het beter resultate in die Nama-Karoo, omdat sy in Loxton woon en in die omliggende area opgelei is.

Hoe raak dit jou?

Die teenwoordigheid van spesies onderaan die voedselketting, soos die kritiek bedreigde oewerkonyne, gee ’n aanduiding of die veld in ’n goeie toestand is, verduidelik Matthew.

Wanneer die ekosisteem werk soos dit moet, sal die plantegroei, die aantal roofdiere en die vloei van water in harmonie met mekaar wees.

Byvoorbeeld, as daar genoeg bossies in die oewerhabitat van dié konyne is om in weg te kruip vir witkruisarende en jakkalse, sal hulle in die habitat oorleef. In die geval, sal die roofdiere hulle vang, maar nie heeltemal uitwis nie.

Indien die bossies verdwyn of verdun, sal die oewerkonyn makliker deur die roofdiere gevang word en wanneer daar nie genoeg bossies vir die konyne is nie, sal daar waarskynlik ook nie genoeg van die bossies wees om rivieroewers teen erosie te beskerm nie. Dit hou gevolge in vir rivierstelsels, waterbeheer, watersekerheid en ’n toename in vloede word moontlik.

Goeie habitat wys dus op volhoubare grondbestuur.

Dit kan grondeienaars doen

Die EWT staan grondeienaars by in die wetlike proses om plase as natuurreservaat of bewaarde gebied te laat verklaar of om ’n biodiversiteitsooreenkoms met die owerhede te sluit in gevalle waar bedreigde spesies op plase voorkom.

Esther Matthew en Jessie in die “veldklaskamer”. Foto: Nicky Souness
Nicky Souness en Jasper toe hy nog jonger was. Foto: Colin Souness
Jessie (7), die borderkollie van Loxton in die Noord-Kaap. Foto: EWT/Esther Matthew
Jasper (ses maande), wat nou leer om spesies uit te snuffel. Foto: EWT/Esther Matthew

Cobus Theron, ’n programbestuurder van die EWT se Droëlandbewaringsprogram, sê amptelike bewaringstatus verseker die voordurende beskerming van dié spesies in ’n wêreld waar al meer ekonomiese ontwikkeling aan die orde van die dag is.

Daar is verskillende bewaringstatusse waarvoor aansoek gedoen word. Ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur kan ’n persoon of gemeenskap hul grond tot ’n natuurreservaat of ’n beskermde gebied laat verklaar of hulle kan ’n biodiversiteitsvennootskapsooreenkoms aangaan.

Vlak 1: Natuurreservaat

Dit is voordelig om die wetlike proses te volg en die bewaringstatus van die eiendom op die titelakte aan te bring. Mense kan so die bewaringstatus vir toekomstige eienaars nalaat. In sommige gevalle, kry mense belastingkortings. ’n Plaas wat dié bewaringstatus het, het dieselfde bewaringstatus as nasionale parke, soos die Krugerwildtuin. Slegs eiendomme met hoë biodiversiteitsvlakke of bedreigde spesies word oorweeg om as natuurreservaat verklaar te word.

Vlak 2: Beskermde gebied

Dit word gereeld vir werkende plase gebruik waar ’n landboulandskap bewaar word. Daar word aangeneem dat sekere dele van die plaas in ’n goeie toestand is en waardevolle biodiversiteit het. Vee wei steeds op die plaas, maar word onderwerp aan sekere maatreëls. Dit kan op die titelakte aangebring word. Die dele van die eiendom wat by die ooreenkoms ingesluit word, mag bewei word, maar onder streng reëls. Dit moet op ’n spesifieke manier bestuur word. Eienaars van aangrensende eiendomme, wat as ’n groep die bewaringstatus van hul grond wil verander, kies gewoonlik dié opsie.

Vlak 3: Biodiversiteitsvennootskapsooreenkoms

Dit is ’n kontrak tussen die owerhede en die boer waarin die boer onderneem om sekere dinge te doen, en ander nie te doen nie. Só ooreenkoms duur ’n korter tydperk as vlak 1 en 2.

Theron sê dit lyk of leefstylkopers eerder grond koop wat verklaar is in ooreenstemming met hul rede vir die aankoop van die grond, teenoor sommige eienaars se vrese dat bewaringstatus dalk die grond se waarde kan laat daal.

Hy sê dit is moeilik om die nadele van bewaringstatusse te bepaal, omdat dit verband hou met iemand se oogmerk om die bewaringstatus van eiendom te verander.

Jasper (ses maande, links) en Jessie (7) op die plaas wat hopelik binnekort as die Silflay Renosterveld-natuurreservaat bekend sal wees. Foto: Nicky Souness
  • Die EWT-projek word ondersteun deur die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, die Globale Omgewingsgerief (GEF) en die Verenigte Nasies (VN) se ontwikkelingsprogram.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.