Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Pelsrob swem 10 000 km na ysige eilande
Grafika24: Morne SchaapFoto: GRAFIKA24: Morne Schaap

Soos die kraai sou vlieg van Port Elizabeth tot in Parys óf Peru . . . dit is hoe ver ’n Antarktiese pelsrob al geswem het sedert hy net meer as vier maande gelede in Port Elizabeth vrygelaat is.

Die Antarktiese pelsrob het op 14 Junie 2016 aan die kus van Port Edward in KwaZulu-Natal uitgespoel. Hy is Bear gedoop na aanleiding van sy wetenskaplike naam Arctocephalus gazella, wat beteken voorkoms van ’n beer.

Dit was die eerste keer dat een van die robbe aan ’n Suid-Afrikaanse strand uitgespoel het.

Ná ses maande se rehabilitasie by die uShaka Sea World in Durban, is Bear einde November 2016 per krat in ’n bussie na Port Elizabeth gebring.

uShaka en die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth het saamgewerk om Bear met ’n boot sowat 65 km die see in te vat tot by die koue Agulhas-seestroom waarvandaan hy sy weg na die Antarktiese eilandgroep moes vind.

Dié eilandgroep is sowat 6 000 km weg.

Hayley Kim Tennant, ’n gedragsontleeder van soogdiere en seevoëls van uShaka Marine World, voer vir oulaas vir Bear ’n vis voor hy in November 2016 vrygelaat is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Hayley Kim Tennant, ’n gedragsontleder van soogdiere en seevoëls van uShaka, wat betrokke was by Bear se rehabilitasie, het ’n peperduur satellietopsporingstoestel (sowat R65 000) met mariene epoksiegom op die rob se rug vasgeplak om sy swemroete te volg.

Tennant het voorspel dat hy tot einde Februarie op verskeie eilande aan die paringseisoen sal deelneem en ’n paar weke later sal begin verhaar. Dit sou beteken dat hy die opsporingstoestel sal afskud.

Die afgelope week het dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog verbonde aan die Bayworld-oseanarium, wat Bear se roete gevolg het, gesê hulle vermoed Bear se verharingsproses het begin.

Nadat hy verder as 10 000 km geswem het, het Bear se toestel laas op 5 April nuwe data gestuur.

“Ek dink sy verharing is reeds ver gevorder en dat hy die opsporingstelsel verloor het.”

Die opsporingstoestel stuur die data met ’n sein aan ’n satelliet elke keer wanneer die rob bo die water kom.

Hoewel daar geen verdere data van die opsporingstelsel verwag word nie, kan Bear steeds aan ’n groot geel plastieketiket aan sy regtervin uitgeken word.

“Omdat hy in van die mees afgesonderde gebiede ter wêreld leef, is die kans klein dat ons hom ooit weer sal sien. Maar dalk eendag, wanneer ’n bioloog op die gevriesde en windverwaaide strande van die suideilande stap, sal die persoon dalk die groot rob met die etikette op sy vin sien en my laat weet,” sê Hofmeyr.

Te midde die hartseer omdat Bear se roete nie langer gevolg kan word nie, sê Hofmeyr Bear se lang reis terug na die ysige eilande is die bewys van ’n suksesvolle rehabilitasie.

Intussen kan die swemroete van Clarence, ’n Kaapse pelsrob, wat op dieselfde dag as Bear vrygelaat is, steeds gevolg word.

Clarence het in September 2016 met ’n bloeiende ken en snymerke op sy lyf aan die kus van Port Elizabeth uitgespoel en is ná ’n kort tydjie in rehabilitasie saam met Bear vrygelaat.

Sy swemroete kan op die Bayworld se Port Elizabeth Museum Marine Mammals-Facebookblad dopgehou word.

Meer oor:  Port Elizabeth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.