Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Pelsrobbe groet vir oulaas en swem huis toe
’n Laaste koebaai van die sub-Antarktiese pelsrob, Edward, voordat hy in die Agulhas-stroom by Algoabaai na vryheid swem. Foto: Cherie Lawrence

Die sewe gerehabiliteerde sub-Antarktiese pelsrobbe wat Sondag weens ontstuimige seetoestande nie vrygelaat kon word nie, het oplaas Dinsdag met hul bykans 2 000 km-swemtog huis toe begin.

Alles was slaggereed vir dié robbe om vrygelaat te word en die swemtog van sowat twee maande aan te pak, toe die skipper van die boot Sondag onrustig gevoel het om die rowwe see 60 km ver tot by die Agulhas-stroom in Algoabaai aan te pak.

Met die eerste gunstige seetoestande is die robbe Dinsdagmiddag weer by die Bayworld-oseanarium opgelaai en van die Baaise hawe reguit na die seestroom geneem.

“Ons het die robbe sowat 40 seemyl uitgeneem en in die koue Agulhas-stroom vrygelaat wat hulle nou in ’n suidelike rigting sal dra,” sê dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog verbonde aan die oseanarium.

Hy meen die eens uitgeteerde en honger robbe is nou vet en sterk genoeg om hul swemtog na Marion-eiland te oorleef.

Ses van die robbe is net meer as ’n jaar oud en weeg tussen 10 kg en 13 kg elk.

Twee van die sewe gerehabiliteerde sub-Antarktiese pelsrobbe wat Dinsdag in die Agulhas-seestroom by Algoabaai vrygelaat is, swem die see in. Foto: Cherie Lawrence

Die sewende rob is volgroei en weeg 51,5 kg.

“Die robbe was almal in ’n baie swak toestand toe hulle uitgespoel het. Die een se swempoot was ook beseer,” sê hy.

Volgens Hofmeyr is die robbe die afgelope twee tot drie maande in kwarantyn versorg en gevoer, sonder om te veel aan menslike interaksie blootgestel te word.

Hofmeyr het Dinsdag se vrylating as ’n sukses bestempel en sê die robbe het vet en gesond gelyk toe hulle in die see spring.

“Hulle (die robbe) het eintlik baie gelukkige gelyk om in die water te wees. Hulle het hulself dadelik begin skoonmaak ná die lang rit op die boot in die kratte, voordat hulle weggeswem het,” sê Hofmeyr.

Hoewel befondsing nie dié keer vir ’n satelliet-opsporingstoestel vir een van die robbe beskikbaar was om hul vordering te volg nie, is elkeen met ’n unieke plastiekbandjie om die poot vrygelaat.

Die bandjie sal help om die robbe te identifiseer, sou hulle weer aan die Suid-Afrikaanse kus uitspoel, sê Hofmeyr.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Natuurbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.