Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Plan met Bettysbaai se kese tree Maandag in werking

Bettysbaai se bobbejaanbestuursplan sal Maandag amptelik begin.

’n Vergadering is Woensdag met alle rolspelers gehou om ’n uitweg te vind om hierdie wilde diere uit die dorp, en spesifiek uit inwoners se huise, te hou, sê die Overstrand-munisipaliteit.

Verskeie inwoners het die afgelope twee weke gekla dat die munisipaliteit sloer om die plan, wat reeds sedert verlede jaar beloof word, in werking te stel.

Bobbejane het toegang tot dié huis in Bettysbaai gekry deur die skuifdeure uit hul spore te lig. Die gebied se bobbejaanbestuursplan begin Maandag. Foto: Verskaf

Netwerk24 het met verskeie inwoners gepraat wat deurgeloop het onder die bobbejane, en veral twee groot mannetjies, bekend as Scarface en Brutus, wat maklik toegang tot geslote huise kry.

Inwoners sê hulle voer ’n skrikbewind in Bettysbaai en die mense lewe in vrees.

Voorvalle word feitlik daagliks by plaaslike bobbejaankennisgewingsgroepe aangemeld en van die inwoners het al selfs regsadvies oor die munisipaliteit se optrede ingewin.

Die munisipaliteit het Donderdag gesê die vergadering het goed afgeloop en sy bobbejaanbestuursplan sal op 19 April begin.

Die probleme met die troppe het sedert Januarie 2019 geleidelik vererger nadat sowat 18 000 ha plantegroei in ’n brand verwoes is. Die troppe se soektog na kos het hulle nader aan die dorpsgebied gebring, maar nadat die plantegroei die afgelope twee jaar herstel het, het hulle nie na die berge teruggekeer nie.

Die meeste voorvalle word in Sunny Seas en Jock’s Bay aangemeld.

In Maart 2019 is ’n ooreenkoms tussen die Overstrand-munisipaliteit, CapeNature en die provinsiale departement van omgewingsake en beplanning gesluit ingevolge waarvan die munisipaliteit die mandaat gekry het om die saak verder te voer. Hierna is ’n taakspan saamgestel.

In November 2019 het die munisipaliteit Human Wildlife Solutions (HWS) as diensverskaffer aangestel om die bobbejane te monitor. HWS verskaf dieselfde dienste in Hermanus en Pringlebaai met groot sukses, volgens die munisipaliteit.

Dit blyk uit korrespondensie tussen CapeNature en die inwoners dat alle nodige permitte aan die munisipaliteit uitgereik is om die nodige planne in werking te stel en die bobbejane as ’n laaste uitweg van kant te maak.

Dudley Coetzee, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, Dean O’Neill, munisipale bestuurder, wyksraadslede van Bettysbaai en Kleinmond sowel as lede van die bobbejaanbestuursprogram het op die vergadering ’n finale besluit oor die inwerkingstelling van die program geneem.

Hulle het op die vergadering gefokus op kwessies soos hoe om ’n volhoubare manier te vind om die troppe te bestuur met die hoofdoel om die bobbejane – ingevolge hul mandaat – uit die dorpsgebiede te hou.

Volgens die munisipaliteit was daar tot nou toe nie ’n amptelike moniteringsprogram vir die Overstrand-bobbejaanbestuursplan in Bettysbaai nie.

Die troppe sal ook op ’n minder aggressiewe manier deur monitors gehanteer word.

Die bestuursprojek in die hele munisipale gebied kos R22,8 miljoen (BTW ingesluit) vir die volgende drie boekjare – R7,2 miljoen in 2020-’21; R7,6 miljoen in 2021-’22 en R8 miljoen in 2022-’23.

Die plan behels die oprig van “virtuele heinings” en ander bestuurstegnieke om die bobbejane terug na hul habitat te dryf.

Hierdie “heinings” behels die speel van roofdiergeluide om die bobbejane skrik te maak sodat hulle terug na die berg vlug.

Dit sal net op sekere punte gebruik word, voorlopig in die Harold Porter Botaniese Tuin en die gebied waar die bobbejane slaap om te verseker dat hulle noord van die dorp bly (en meer na die berg se kant toe).

Die Overstrand-munisipaliteit sê dit is die voorlopige plan en kan verander namate dit blyk hoe dit in die praktyk werk.

Die troppe sal ook op ’n minder aggressiewe manier deur monitors gehanteer word.

Indien dit nodig word om ’n verfbal te gebruik, sal elke monitor net een bal op ’n slag mag afvuur.

Klank sal saam met die verfballe gebruik word sodat die bobbejane in die vervolg die twee sal assosieer.

Inwoners kan enige bobbejaan-verwante voorvalle by 072 028 0008 aanmeld.

Meer oor:  Bettysbaai  |  Bobbejaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.