Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Pretoriase dieretuin soek steeds na nuwe koala

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria spook al van voor die onlangse dood van sy geliefde koala, Willie, om nog van dié Australiese buideldiere te kry.

Willie het op 6 Julie gevrek weens ’n chroniese lewertoestand. Hy was net ’n bietjie ouer as 13.

Craig Allenby, waarnemende direkteur van die dieretuin, sê ’n koala se lewensverwagting is sowat 13 jaar.

Willie in 2006, toe hy slegs ’n paar maande oud was, beloer die wêreld vanuit sy ma, Reneé, se buidel.Foto: Leon Botha

“So hy was oud. Al ons koalas is op ongeveer dieselfde ouderdom, tussen 13 en 14 jaar, dood.”

Willie was die dieretuin se laaste koala.

Op 4 Januarie 2006 was Willie die eerste koala wat in die Nasionale Dieretuin gebore is. Dit is sover bekend ook die eerste koala wat in Afrika gebore is.

Die dieretuin het aanvanklik vier koalas – Willie se ouers en twee ander – as ’n geskenk van Australië aan oudpres. Nelson Mandela ontvang.

Een van die drie nuwe swartvin-rifhaaie in die akwarium van die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die haaie is sowat 1 m lank en weeg 10 kg.Foto: Deaan Vivier

Willie is vernoem na Willie Labuschagne, destydse direkteur van die dieretuin toe die koalas in 2001 daar aangekom het.

“Dit was die eerste keer in baie jare dat Australië koalas beskikbaar gemaak het, so ons was die enigstes in Afrika wat op daardie stadium koalas gehad het,” sê Allenby.

“Ons almal by die dieretuin is baie hartseer oor Willie se dood. Hy was baie spesiaal, net soos al ons diere. Wanneer ’n dier doodgaan, is dit gewoonlik baie traumaties vir die mense wat na daardie dier gekyk het.”

Die Pretoria-dieretuin is al lank besig met ’n projek om meer koalas te kry.

“Ons bewaringsbestuurder werk onvermoeid om koalas te probeer kry, maar dit is baie moeilik om koalas uit Australië te kry, selfs al is hulle volop daar,” sê Allenby.

’n Besoeker kyk na een van die drie nuwe swartvin-rifhaaie in die akwarium van die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die haaie het in April vanjaar van Kenia afgekom. Foto: Deaan Vivier

Die dieretuin het uitgereik na die Europese en Amerikaanse diereverenigings, sowel as die Pan-Afrika-vereniging vir dieretuine en akwariums (Paaza). Daar is ook na individuele dieretuine uitgereik.

“Daar word eerste uitgereik na die verenigings en dan praat jy met die spesiekoördineerder wat sal bepaal of daar surplusdiere is wat deel is van die teelprogram. Jy vorm dan deel van daai teelprogram om sodoende inteling te voorkom,” sê Allenby.

“Partykeer kan jy ook regstreeks kontak maak met dieretuine en reël vir uitruiltransaksies. Wat ons in die dieretuinwêreld probeer doen, is om diere uit te ruil. Ons koop nie diere aan nie – ons wil nie geldwaardes aan diere heg nie. Dit is nogal ’n lang en groot proses.”

Die dieretuin probeer albei prosesse om ’n koala in die hande te kry, maar was nog nie suksesvol in hul pogings nie, sê Allenby verder.

Intussen het die dieretuin se akwarium in April vanjaar drie swartvin-rifhaaie bygekry.

Die haaie is van Kenia af ingevlieg in ronde plastiektenks met water waarin daar suurstof gepomp word.

Dié Mexikaanse kraalakkedis het die afgelope week in die Nasionale Dieretuin in Pretoria uitgebroei.Foto: Deaan Vivier

“Omdat die haaie nog klein is, was daar genoeg ruimte vir die haaie om in die water te swem,” sê Allenby.

Die dieretuin maak ’n mengsel aan van soute en ander minerale vir die water en monitor gedurig die watergehalte.

Die haaie is sowat ’n jaar oud. Omdat hulle nog so jonk is, is dit moeilik om hul geslag te bepaal, maar daar word vermoed een is manlik en twee vroulik, sê Allenby.

Die haaie is so 1 m lank en weeg sowat 10 kg.

Dié pannekoekskilpad het op 1 Februarie in die Nasionale Dieretuin in Pretoria uitgebroei.Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Pretoria  |  Dieretuin  |  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.