Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
R873 m. nodig om Vaalrivier te red

Dit gaan sowat R873 miljoen kos om die Vaalrivier in die Vaaldriehoek van rioolbesoedeling te red en al die nodige herstelwerk aan watersuiweringsaanlegte en pompe te doen.

Van 24 November verlede jaar, toe die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) daar ontplooi is, tot 31 Desember is reeds R6 miljoen bestee.

Dié geld kom volgens genl.maj. Thembelani Xundu, die SANW se hoofdirekteur van koöperatiewe dienste, in dié stadium net so uit die weermag se huidige finansiële begroting omdat die nasionale tesourie nog nie die begroting vir Operasie Vaalrivier, waartoe ander departemente en aandeelhouers moet bydra, goedgekeur het nie.

Genl.maj. Thembelani Xundu, hoofdirekteur van korporatiewe dienste van die SANW, Maandag op ’n nuuskonferensie oor die weermag se ingryping by die Vaalrivier. Foto: Deaan Vivier

“Tans het ons nog nie geld nie. Dit is kommerwekkend omdat ons die einde van die boekjaar nader. Ons gaan uitgawes aan wat geabsorbeer moet word deur ons huidige begroting, wat nie bedoel was vir ’n omgewingsoperasie nie.

“Ons hoop om gou ’n antwoord te kry. Ons maak goeie vordering, maar benodig nou sekere toerusting en masjinerie wat die weermag nie het nie,” sê Xundu.

Hy was deel van ’n afvaardiging van die weermag wat Maandag verslag gedoen het oor die vordering van die projek nadat Tito Mboweni, minister van finansies, op 24 Oktober verlede jaar in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê het die SANW word gestuur om in te gryp by die Vaalrivier-krisis.

Weermaglede is kort daarna in die Vaaldriehoek ontplooi om te help nadat die Emfuleni-munisipaliteit se rioolinfrastruktuur ineengestort het met die gevolglike besoedeling van die Vaalrivier.

Kol. Andries Mahapa van die SANW verduidelik hoe die primêre septiese tenk by die Sebokeng-watersuiwerinsgaanleg moet werk. Die weermag gaan binnekort begin om dié spesifieke tenk skoon te maak vir herstelwerk. Die slyk het hard geword en moet verwyder word voordat herstelwerk kan begin. Foto: Deaan Vivier

Hulle bewaak onder meer sleutelpunte terwyl kundiges, soos ingenieurs, help met die herstel van die 46 pompstasies langs die rivier en drie watersuiweringsaanlegte.

Xundu sê siviele ingenieurs, landmeters, ambagslui en ander van die vloot en lugmag word in Junie verwag om die leër by te staan.

Hy het dit duidelik gemaak dat daar wel geld is, en dat dit sal kom. Die proses om dit goedgekeur te kry en te bekom, sloer. Die onkoste van die toerusting is by die begroting van R873 miljoen ingereken.

Die weermag se ingenieurs werk tans aan drie watersuiweringsaanlegte en herstel en bewaak verskeie pompe. Sekere werk kan egter nie verder vorder sonder die nodige toerusting nie.

Soldate aan die werskaf by ’n pompstasie by Boitumelo buite Vanderbijlpark. Foto: Deaan Vivier

“Ons benodig goed soos hoëdruk-waterpype en weens aanhoudende begrotingsbesnoeiings het die weermag nie sulke toerusting nie. Dit kortwiek ons vermoëns.

“Die weermag sit egter nie met gevoude arms nie. Ons maak ander planne.”

Die laaste paar maande het hulle reeds een van die septiese tenks 95% herstel – maar die spesiale toerusting is nodig vir die res van die werk aan dié tenk. Nog een is 80% herstel.

Intussen het hulle ook die riool wat al meer as ’n jaar deur ’n huis in Boitumelo net buite Vanderbijlpark stroom, gestop, die probleem herstel en begin met herstelwerk aan die gesin se huis.

“Ons het 28 lede wat die Sebokeng-watersuiweringsaanleg en van die pompstasies bewaak. Daar was sedert Desember geen inbrake of vandalisme daar nie.

“Die weermag-ingenieurs het ook gehelp om van die ondergrondse pype in Vereeniging te vervang, en het in Desember vloedwater herlei wat huise in Sebokeng bedreig het,” sê Xundu.

Die weermag is in November 2018 ontplooi om waterpompe en riool-aanlegte in die Vaaldriehoek te herstel weens besoedeling wat in die Vaalrivier beland het. Hier werk weermagingenieurs aan ’n pompstasie by Boitumelo buite Vanderbijlpark. Foto: Deaan Vivier
Die SANW meen dit sal meer as R800 miljoen kos om al die herstelwerk af te handel. Foto: Deaan Vivier

Kol. Andries Mahapa, projekleier van Operasie Vaalrivier, het in Boitumelo gaan wys waar ’n pompstasie herstel is.

Terwyl gewapende soldate grond gelyk gemaak het vir hul tent, het Mahapa verduidelik as dié pompstasie stop, loop die riool in mangate uit.

“Die stasie het krag nodig. So, as Eskom nie krag het nie, begin die mangate oorloop. Ons sal kragopwekkers by al die stasies moet kry en dit in die omheinde beveiligde area moet insluit,” verduidelik hy.

By die wateraanleg het hy gewys hoe die een tenk Saterdag nog droog en byna skoon was. Omdat daar egter nie masjinerie is om die verharde slyk op die bodem op te breek nie, moes die weermag weer water intap om dit te probeer versag.

“Ons sou die tenk binne twee dae kon klaar hê, maar nou moes ons ’n ander plan maak. Ons werk met dit wat ons het, en hoewel stadiger, is daar vordering,” sê Mahapa.

Die SANW het Maandag gewys watter vordering met Operasie Vaalrivier gemaak is sedert hulle in Oktober 2018 ontplooi is. Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.