
Tornyne, dolfyne en walvisse word ál meer deur geraas- en chemiese besoedeling bedreig. Foto: ELS VERMEULEN
Meer as die helfte van die 90 walvisspesies op aarde voer tans ’n oorlewingstryd.
Meer as 250 internasionale walviskenners van 40 lande pleit daarom in ’n ope brief wat aan wêreldleiers gerig is, om dringende optrede vir die gekoördineerde beskerming van walvisse, dolfyne en tornyne.
Dr. Els Vermeulen, bestuurder van die walviseenheid van die soogdiernavorsingsinstituut aan die Universiteit van Pretoria, sê hierdie diere word weens toenemende menslike aktiwiteit in die see deur uitwissing in die gesig gestaar.
Walvisse en dolfyne is soogdiere wat lank lewe, maar baie stadig voortplant. Hulle is daarom uiters sensitief vir enige ontwrigting, sê Vermeulen.
Hy en Mark Simmonds, ’n besoekende navorsingsgenoot van die Universiteit van Bristol en senior mariene wetenskaplike van die Humane Society International (HSI), het die naweek in ’n gesamentlike verklaring gesê die ope brief is “ ’n buitengewone wekroep” deur wetenskaplikes.
Terwyl ’n paar walvisbevolkings hier en daar tekens van herstel toon, is die meeste bevolkings op die rand van uitwissing.
Walvisse en dolfyne, maar ook tornyne, word ál meer deur geraas- en chemiese besoedeling bedreig.
Baie word ook in reuse-nette vasgekeer.
Dringende internasionale maatreëls moet opgestel en ingestel word om te sorg dat hulle nie uitsterf nie.
Wetenskaplikes, beleidmakers, politici en die burgerlike gemeenskap moet hande vat en help om die diere te beskerm.
“Terwyl ’n paar walvisbevolkings hier en daar tekens van herstel toon, is die meeste bevolkings op die rand van uitwissing.”
Die feit dat enkele walvisbevolkings groei, bewys volgens Vermeulen dat hul herstel moontlik is indien sommige menslike aktiwiteite uit die weg geruim word.
Hierdie oproep gaan nie net oor die ideaal om walvisse te red nie, dit gaan daaroor om ons planeet en onsself te red.
Die wetenskaplikes sê die voortbestaan van die noordelike noorkapper en die vaquita, wat in die Golf van Mexiko voorkom, huiwer tans op ’n mespunt.
Walvisse, dolfyne en tornyne word beskou as intelligente diere met ’n selfbewussyn. Hulle verkeer sosiaal en is ook aanwysers van die welstand van die oseaan.
13 walvisspesies is kritiek bedreig, sewe is kwesbaar en nog sewe is byna bedreig.
Dit is kommerwekkend dat daar “bitter min” inligting oor nog 24 spesies bestaan, wat kan beteken hulle is “diep in die moeilikheid”.
Die navorsers sê die “buitengewone besluit” om die brief te skryf is geneem deur die wetenskapkomitee van die Internasionale Walviskommissie (IWK) omdat lede “diep bekommerd” is oor die voortbestaan van dié soogdiere.
Volgens die komiteelede moet beleidmakers nou gekoördineerde maatreëls tref om die diere se voortbestaan te verseker.
Hulle sluit die brief af met die woorde: “Hierdie oproep gaan nie net oor die ideaal om walvisse te red nie, dit gaan daaroor om ons planeet en onsself te red.”