Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Reën beloof verligting vir binneland
Welkom, Sondagmiddag.Foto: Madelein Hanekom/ Reënval in SA

Reën kan dié week verligting bring vir die mense van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes nadat ’n hittegolf verlede week weer die binneland verskroei het.

Willem-Hendrik (13) en Ti-Aney (11) Strauss baljaar Sondag in Welkom se nat strate. Ma Wanda het Sondagmiddag gesê Dagbreek in Welkom het sowat 30 mm reën gehad. Foto: Wanda Strauss/ Reënval in SA

Nóg goeie nuus is dat Vrydag amptelik die laaste dag van die hittegolf was, hoewel temperature vandeesweek steeds aan die hoë kant gaan wees.

Die grootste dele van die Vrystaat en Noordwes sal na verwagting vir die volgende sewe tot nege dae reën kry, met die oostelike dele van die Noord-Kaap wat van Dinsdag af ook nat kan wees.

Quinton Jacobs van die Bloemfonteinse weerkantoor sê reën sal na verwagting van Sondag af oor die oostelike dele van die Vrystaat en Noordwes uitsak.

Reën en hael het Sondagmiddag reeds in dele van die Vrystaat begin val.

Madelyn Herbert het Sondagmiddag op die Facebook-groep Reënval in SA gesê Welkom het binne 20 minute 20 mm reën gekry. Dit het ook in die stad gehael.

Wanda Strauss van Dagbreek in Welkom het aan Netwerk24 gesê hulle het binne 15 tot 20 minute 28 mm reën ontvang. Strauss sê ná nog ’n bui lê die reënmeter op 30 mm.

Wimpie Duppie du Preez het op dié groep laat hoor 40 mm reën is in Bothaville gemeet.

Hael so groot soos appelkose, Vredefortkoepel. Foto: Yolandi Calitz/SA Reënvalverslae

Reën en hael het ook in Odendaalsrus en Virginia voorgekom, terwyl Hennenman en Harrismith ook reën gehad het.

“Dit sous en hael in die Vredefortkoepel tussen Potch en Vredefort,” het Yolandi Calitz op die Facebook-groep SA Reënvalverslae gesê. Op een van die foto’s hou sy hael so groot soos appelkose vas.

Hoewel Jacobs reën vir die grootste dele van die Vrystaat en Noordwes vir die volgende paar dae voorspel, sê hy toestande lyk gunstiger in die oostelike dele van die gebiede.

“Wonderlike reën binne minute,” het Madelein Hanekom Sondagmiddag op die Facebook-groep Reënval in SA vanuit Welkom gesê. Die reënmeter vertel die storie. Foto: Madelein Hanekom/ Reënval in SA

In die oostelike dele van dié provinsies word 10 mm tot 30 mm per dag voorspel, terwyl sowat 5 mm tot 10 mm in die westelike dele verwag word.

Die oostelike dele van die Noord-Kaap sal na verwagting van Dinsdag af reën kry, maar minder as 10 mm per dag, sê hy.

Jacobs skryf die reën toe aan ’n trog wat nou oor Namibië ontwikkel.

“Dit bring tropiese lug oor die sentrale binneland en dit is wat omtrent elke dag hierdie week vir ons lekker kanse vir reën gee.”

Hy sê van Woensdag en Donderdag af is die kans vir groter hoeveelhede reën beter vir die streek. Die moontlikheid van reën in die eerste week van Februarie is ook goed.

“Ons gaan reën kry, maar nog nie naastenby genoeg om ons heeltemal uit die moeilikheid te help nie.”

Die weerdiens het ook gewaarsku teen hewige donderstorms wat vandeesweek in die sentrale en oostelike dele van die streek kan voorkom.

Temperature vir die streek sal steeds warm wees, maar nie warm genoeg vir ’n hittegolf nie, sê Jacobs.

Hy voorspel temperature van in die hoë 20’s en lae 30’s.

Meer oor:  Weervoorspelling  |  Binneland  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.