Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Reën bring plek-plek verligting in Oos-Kaap

Verskeie droogtegeteisterde dele in die Oos-Kaap het Vrydag plek-plek meer as 30 mm reën gehad.

Reën in Port Elizabeth het motoriste Vrydag op die Setlaars-snelweg versigtig laat ry nadat water op verskeie dele van die pad opgedam het. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die Suid-Afrikaanse Weerkantoor in Port Elizabeth sê reënvalsyfers is Vrydagoggend om 08:00 en die middag om 14:00 gemeet.

Op Uitenhage het 35,8 mm reën geval, terwyl 36,6 mm by die Port Elizabeth-lughawe gemeet is.

In die Nelson Mandelabaai-metro se opvangsgebiede het Patensie die meeste reën gekry – 45,4 mm.

By Swartkops is net meer as 20 mm reën gemeet, terwyl daar op Joubertina en Kareedouw onderskeidelik slegs 4,2 mm en 4 mm reën geval het.

Die Kougadam, wat tans slegs 6,76% vol is, het 5,5 mm reën gehad.

Samkelo Ngwenya, woordvoerder van die Buffalostad-metro, sê dié stad staal hom vir swaar reën en stormsterkwinde van 70 km/h wat vir Vrydagaand voorspel word.

Rampbestuur-, asook verkeersdienste, is reeds in dié stad op bystand geplaas.

Die Oos-Kaap se damvlakke is stabiel, wat gesamentlik op 62,2% staan, maar meer gefokusde pogings is nodig om die Nelson Mandelabaai-metro se waterverbruik te stabiliseer voordat die ergste gebeur.

Inwoners word ook gewaarsku teen boomtakke wat op kragdrade en op die paaie kan beland, sê Ngwenya.

Oorstromings is ook Vrydagoggend in verskeie dele van die stad aangemeld.

Die weerkantoor waarsku dat verdere reën nog Vrydag kan voorkom, voordat dit oornag sal opklaar.

Swaar reën word nog tot 20:00 in Port Elizabeth, Oos-Londen en Butterworth voorspel.

Geen reën word Saterdagoggend verwag nie, met ’n klein kans vir reën wat vir Sondagaand wes van Kaap St. Francis voorspel word.

’n Satellietbeeld van hoe sneeu oor dele van die Oos-Kaap beweeg het. Foto: Twitter

Intussen het die departement van waterwese en sanitasie opnuut sy bekommernis oor die Nelson Mandelabaai-metro se damvlakke uitgespreek.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê in ’n verklaring die Nelson Mandelabaai-metro se damvlakke daal voordurend en meer sal gedoen moet word om water te bespaar.

Die gesamentlike damvlakke vir die metro staan vandeesweek op 18,1%, terwyl dit verlede jaar op dieselfde tyd op 32% gestaan het.

“Die Oos-Kaap se damvlakke is stabiel, wat gesamentlik op 62,2% staan, maar meer gefokusde pogings is nodig om die Nelson Mandelabaai-metro se waterverbruik te stabiliseer voordat die ergste gebeur.”

Die Amathole-waterstelsel, wat water aan die Buffalostad-gebied voorsien, se gesamentlike damvlakke staan tans op 89,5%, teenoor verlede jaar se 62,3%.

Die Gcuwadam by Butterworth is tans 100% vol en die Xilinxadam naby Idutywa staan tans op 48,3%, terwyl dit verlede jaar dié tyd leeg was.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Uitenhage  |  Oos-Kaap  |  Reën  |  Weer  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.