Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Reën verwelkom, maar kommer oor indringerplante

Die onlangse somerreën in die Suid-Kaap word verwelkom, maar daar is kommer oor die hergroei van indringerplante, sê die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI).

“Die boverwagte goeie reën wat in Januarie in die Suid-Kaap uitgesak het, is sonder twyfel goed vir die herstel van die veld en die opvangsgebiede,” sê Cobus Meiring van die SCLI in ’n verklaring.

Dorpe soos Calitzdorp, Van Wyksdorp, Ladismith en Oudtshoorn het egter steeds nie genoeg reën gekry om die droogte daar te breek nie.

Veld wat in die verwoestende Knysna-Outeniekwa-brande afgebrand het, herstel goed ná die goeie reën, maar kommer heers oor grondeienaars wat nagelaat het om die hergroei van indringerplantegroei in bedwang te hou. Foto: Verskaf

Die SCLI monitor deurgaans die plantegroei in die ongeveer 200 000 ha veld wat in die Tuinroete-streek onder die wegholveldbrande deurgeloop het. Dit sluit gebiede in die Stilbaai-, Vermaaklikheid-, Knysna- en Plettenbergbaai-omgewing in.

Meiring waarsku dat indringerplante soos akasia en rooikrans aggressiewe groeiers is en maklik met meer as ’n meter in ’n jaar groei.

Volgens hom is indringerplante op die plekke waar dit in Knysna gebrand het, lank reeds verby die punt waar grondeienaars bloot die hergroei daarvan kan beheer deur dit met onkruiddoder te bespuit.

Meiring sê kommer bestaan oor grondeienaars wat nagelaat het om die hergroei van indringerplante in bedwang te hou.

Daar is gebiede waar bloekoms, akasia, denne en rooikrans nou reeds oor die twee met hoog staan en toenemend ’n brandgevaar inhou.

Volgens hom beteken die verwagte warm somerweer met moontlik nog goeie reën in die vooruitsig dat die ongewenste groei van dennebome en akasias in opvangsgebiede van die Outeniekwaberge eksponensieel kan toeneem.

“Owerhede en bewaringsinstansies sal toenemend ’n wakende oog daaroor moet hou en om van die gebiede later in 2020 weer te brand, waar nodig.”

Volgens hom is die permanente onttrekking van MTO Bosbou uit die staatsplantasies aan die hange van die Outeniekwaberge nog ’n kwessie wat aandag op hoë vlak moet kry. Groot gedeeltes van die bosbou-gebiede het sedert 2017 afgebrand en daar word verwag dat dennebome in die oud-plantasies aggressief sal hergroei. Dit kan ’n nadelige impak op opvangsgebiede hê.

SCLI is tans besig met omvangryke omgewingsbewaringswerk in verskeie rivierstelsels in die Tuinroete-streek. Die organisasie lewer ook bystand aan grondeienaars wat deur die weghol-veldbrande van 2018 geraak is, onder meer met die opstel van bestuursplanne om indringerplante te beheer en hulp met onkruiddoders.

Meer oor:  Suid-Kaap  |  Indringerplante  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.