Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
OORSIG: Vaaldam daal ten spyte van goeie reën
  • Sowat 35 mense is gister uit die Centurion Hotel weggeneem nadat gaste en personeel daar deur vloedwater vasgekeer is. Dit volg nadat die Hennopsrivier sy walle oorstroom het.
  • In Mamelodi is 80 sinkhuise gister deur vloedwater meegesleur en mense is van die dakke van hul sinkhuise na veiligheid gebring. 

Volg die regstreekse dekking hier.

10 Des. 14:28:49

Hiermee sluit Netwerk24 sy regstreekse dekking. Hou Netwerk24 dop volledige berigte oor die oorstromings en swaar reën.

10 Des. 14:26:39

Ten spyte van swaar reën wat die afgelope paar dae in veral Gauteng aangeteken is, het die Vaaldam se vlak die afgelope week gedaal.

Die Vaaldam was verlede week Dinsdag nog 40.2% vol, maar vandag is die departement van water en sanitasie gemeet dat die dam net 39% vol is. Verlede jaar die tyd was die dam 78,5% vol.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê die reën wat in Gauteng geval het vloei na Noordwes. Die Hartbeespoortdam, wat se water na Noordwes vloei, se sluise is byvoorbeeld Dinsdag oop gewees.

Volgens Ratau is die opgaargebied van die vaalrivierstelsel, wat water aan Gauteng voorsien, in Mpumalanga, die Vrystaat en dele van die Noordwes. Volgens hom is die voorlopige reënvalsyfers wat in die opgaargebied aangeteken is nie te waffers nie. Dit gaan ’n paar dae neem voor al die water van die opgaargebied na die damme loop. Eers dán sal ’n akkurate prentjie gekry kan word oor hoe die afgelope reën die vaalrivierstelsel geraak het.

10 Des. 14:14:43

Talle inwoners van ’n informele nedersetting in Mamelodi, Pretoria, het vandag probeer red wat te redde is nadat hulle wonings Maandag deur oorstromings verwoes is.  Baie van diegene wat hul besittings verloor het, onder meer meubels en dokumentasie, het na ’n nabygeleë gemeenskapsaal gegaan waar hulle deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, toegespreek is. Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng, was ook teenwoordig. ’n Geraamde 500 sinkhuise is tydens die oorstroming meegesleur. 

10 Des. 14:08:42

10 Des. 14:08:12

Al tien sluise van die Hartbeespoortdam, in Noordwes, is oop. Foto: Deaan Vivier

10 Des. 13:59:31

Die swaar reën wat die afgelope dae in die noordelike provinsies van Suid-Afrika geval het, gaan boere “ver neem”, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die Transvaalse landbou-unie (TLU SA). Hy sê die reën het in ’n kritieke stadium gekom omdat dit tot dusver baie droog was in die noordelike deel van die land.

Hoewel boere in die hoëveld gewoonlik hul gewasse teen middel-November plant, plant boere in die noordweste van die land wel bietjie later.

Van Zyl meen die reën, wat uitgerek en wydverspreid was, sal boonop help om “giftige” rivierstelsels skoon te spoel en om die vlak van grondwater te herstel. Hy sê veëboere sal veral gelukkig wees met die afgelope reën omdat voer begin skaars word het.  

Van Zyl benadruk egter dat die onlangse reën nie boere se uitdagings gaan oplos nie.

“Die afgelope paar jaar dra boere swaar aan skuld en hulle sukkel om finansiering te kry om nuwe oeste te plant. Boonop moet daar nog reën op die regte tye val sodat ’n goeie oes gelewer kan word,” sê Van Zyl.

Buiten die noordelike provinsies bly dit droog in ander dele van die land, sê Van Zyl. Volgens hom is die gebiede waar dit nog droog is die Karoo-dele van die Wes- en Oos-Kaap, die Noord-Kaap en die westelike deel van die Vrystaat. 

10 Des. 13:42:23

Catherine Konyane, ’n inwoner van Mamelodi wat se huis gister deur vloedwater getref is, sê al haar kos, dokumentasie en ander goedere het weggespoel. Sy sê die water wat gister deur haar sinkplaathuis gevloei het, was omtrent tot by haar nek. “Al die kos het weggespoel...die graanvlokkies vir die kinders, 10kg suiker...dis weg,” sê Konyane. Sy het Maandag linne in haar woonplek opgehang waar emmers die plek vol gestaan het. Foto: Felix Dlangamandla

10 Des. 13:33:17

Minstens een mens is dood weens die oorstromings wat Tshwane vandeesweek getref het.

News24 berig Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Mamelodi gesê ’n lyk is Dinsdagoggend in Centurion gekry. Sy sê die persoon is deur vloewater in die gebied Maandag meegesleur. Dlamini-Zuma sê nog ’n persoon is in Mamelodi as vermis aangemeld. 

10 Des. 13:15:21

Mense wat graag skenkings wil maak om vloedslagoffers te help kan volgens Karen Meyer, burgermeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste, skenkings by die volgende punte maak:

* Die Nelmapius-biblioteek op die hoek van die Lesedi- en Moreripad in Pretoria. 

* Die Centurion-brandweerstasie, 254 Basdenlaan, Lyttleton, Centurion.

* Die Akasia-munisipale gebou in Pretoria tussen 09:00 en 16:00.

Volgens Meyer is mense welkom om komberse, kos, klere en doeke vir baba's te skenk. 

10 Des. 13:03:56

William Msimanga, senior weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê daar is vandag ’n 80%-kans vir reën in die noorde van die land.

Daar kan ook oorstromings voorkom in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, die noorde van KwaZulu-Natal, die ooste van Noordwes en die noordoostelike deel van die Vrystaat.

Volgens Msimanga sal die weerstoestande weer Woensdag na “normaal” terugkeer met enkele donderstorms wat in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo verwag word. Donderdag word geen reën vir die noordelike provinsies voorspel nie, maar wel enkele donderbuie Vrydag.

Volgens Msmimanga is die reënstelsel wat die noordelike provinsies die afgelope paar dae beleef het, tropies van aard. Hoewel reën in die noordelike provinsies gewoonlik van donderbuie afkom, is die tropiese reënstelsel nie ongewoon in die somerreënvalgebiede van Suid-Afrika nie.

Hy sê die weerdiens het nog nie die hoeveelheid reën wat die afgelope paar dae geval het gemeet nie en daarom is dit moeilik om te sê of daar bo-gemiddelde reën geval het. Volgens hom is daar gister 103 mm by Unisa in Pretoria gemeet. 

Meer oor:  Bronkhorstspruit  |  Centurion  |  Oorstromings  |  Kitsvloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.