Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Renosterkoei, kalf op wildreservaat gestroop

’n Renosterkoei en kalf het die jongste slagoffers van renosterstropers in die Oos-Kaap geword.

’n Veldwagter het Saterdagmiddag omstreeks 16:00 op die twee verminkte renosterkarkasse op die Shamwari-wildreservaat, ongeveer 75 km buite Port Elizabeth, afgekom.

Die jongste voorval het die totaal van renosters wat vanjaar in die provinsie gestroop is tot 11 laat styg.

Tank, ’n 16 maande oue renosterbul, stap deesdae alleen op by die Kragga Kamma-wildreservaat, nadat sy ma, Bella, twee weke gelede op die reservaat gestroop is. Foto: Ayesha Cantor

“Dit is nou vinnig besig om ’n rampspoedige jaar vir ons te word. Veral omdat die provinsie nou al staan op ’n totaal wat bykans net soveel is as die totale getal renosters wat verlede jaar doodgemaak is,” het Rodney Visser, sekuriteitshoof van die Shamwari-groep, gesê.

Altesaam 12 Oos-Kaapse renosters is in 2017 vir hul horings doodgemaak.

Die witrenosterkoei en haar kalf is op ’n afgeleë gebied in die reservaat naby Alicedale aangetref.

Volgens Visser is albei se horings verwyder.

Die renosters is reeds drie dae voor die ontdekking van hul karkasse doodgemaak. Albei is met ’n swaarkaliberwapen geskiet.

Genl.maj. André Swart, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het wildeienaars aangemoedig om waaksaam te bly en hul wild voortdurend onder oë te hou.

“Goeie leidrade is op die toneel aangetref en word opgevolg. Ons vertrou dit sal ons binnekort tot by die verdagtes lei, sê Swart.

Renosterstropers het laas in 2011 suksesvol op dié reservaat toegeslaan. Toe is twee renosters doodgemaak. In 2008 is die eerste renoster in die Oos-Kaap op Shamwari gestroop.

Volgens Visser is die opskerping van sekuriteit by ’n reservaat ’n voordurende proses, maar is die koers waarteen renosters tans gestroop word kommerwekkend.

Bella, die oudste renosterkoei van die Kragga Kamma-wildreservaat, met haar renosterkalf, Tank, in Maart verlede jaar. Foto: Argief

“Net omdat daar minder renosters in 2017 oor die land geskiet is, beteken dit nie sake het verbeter nie. Dit beteken eenvoudig daar is nou minder renosters om te skiet, en die hele situasie is baie kommerwekkend,” sê Visser.

Volgens Edna Molewa, minister van omgewingsake, is 1 028 renosters verlede jaar in Suid-Afrika gestroop, 26 minder as die vorige jaar se totaal van 1 054 renosters.

Die Oos-Kaap is minder as twee weke gelede ook deur renosterstropers geteiken toe ’n renosterkoei by die Kragga Kamma-wildreservaat naby Port Elizabeth gestroop is.

Bella, ’n 20-jarige renosterkoei en stammoeder van dié wildreservaat, se karkas is op 29 Junie aangetref.

Haar skietdood was die eerste vir dié reservaat en minder as ’n week nadat sy deur ’n veearts onthoring is.

Volgens Ayesha Cantor, mede-eienaar van Kragga Kamma-wildreservaat, het Bella ’n sowat 1 cm, skaars 300 g, horing oorgehad.

Dié voorval het Tank, Bella se jongste renosterkalf van 16 maande oud, wees gelaat.

“Tank sou vir nog agt maande melk van Bella gekry het. Ons gee hom nou twee of drie keer ’n dag lusern. Hy eet darem en dit is ’n goeie teken.

“Die moeilikste is om hom in die aande te hoor huil.

“Ná Bella se dood maak Tank saans piepgeluide.

“Hy probeer sy bes om aan te pas, want hy wil tussen ander renosters wees. Dit help nie ons haal hom uit en plaas hom in ’n boma nie. Tank wil hier wees, ons glo hy sal rustig raak,” het Cantor gesê.

Meer oor:  Rodney Visser  |  Oos-Kaap  |  Shamwari-Wildreservaat  |  Stropers  |  Renosterkoei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.