Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Renosters is helfte soveel as in 2013

Die jongste sensus van swart- en witrenosters wat in die Krugerwildtuin gedoen is, toon dat die bevolking van albei spesies van 2013 tot 2018 met meer as die helfte ingekrimp het.

Die sensusopnemers het in 2018 4 116 witrenosters en 291 swartrenosters getel, luidens ’n artikel in die wetenskaptydskrif Pachyderm.

In 2013 was daar 8 968 witrenosters in die wildtuin en 627 swartrenosters

Die artikel, “Evaluating uncertainty in estimates of large rhinoceros populations”, is deur drs. Sam Ferreira en Danie Pienaar, albei natuurwetenskaplikes van Sanparke, geskryf.

Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê Sanparke doen jaarliks ’n sensus van renosters. Die resultaat van die sensus wat in 2018 gedoen is, is “kommerwekkend”.

Phaahla sê die syfers van die 2019-sensus is nog nie bekend nie.

Ferreira en Pienaar skryf in die artikel die afname in die renosterbevolking word toegeskryf aan stropery.

“Die afname in die witrenosterbevolking vind plaas ondanks verskeie bestuursingrypings om die spesie te bewaar.

“Dit bestaan uit intensiewe teenstropingsoperasies, die hervestiging van die spesie, pogings om die netwerke van georganiseerde sindikate te ontwrig en deur ekonomiese alternatiewe vir die plaaslike bevolking te skep.”

Hulle verwys ook na die openbare kritiek waaronder Sanparke dikwels deurloop wanneer veldwagters weens renosterstropery in hegtenis geneem word.

Die afname in die witrenosterbevolking vind plaas ondanks verskeie bestuursingrypings om die spesie te bewaar.

Die skrywers sê Sanparke word dikwels van korrupsie in sy geledere beskuldig en dat bewaringsorganisasies nie al die karkasse van gestroopte renosters aanmeld nie. Dit beteken dus dat die volle getal voorvalle van renosterstropery nie altyd aangemeld word nie.

Luidens die artikel is dit beslis ’n uitdaging om renosterkarkasse op te spoor en owerhede meen 20% daarvan word nie gevind nie.

Daar is dus ’n moontlikheid dat daar meer stropingsvoorvalle is as wat aangemeld word.

Die skrywers meen die stropery in die wildtuin mag dalk baie erger wees as wat geglo word weens die feit dat karkasse nie altyd opgemerk word nie.

’n Bykomende impak van renosterstropery is die onsekerheid oor die getal renosterkalwers wat doodgaan as die ma gestroop word. Die impak op die bevolking van ongebore kalwers van dragtige koeie wat gestroop word, kan ook nie bereken word nie.

Hulle verduidelik hoe die sensus gedoen word en dat daar moontlik ietwat meer renosters kan wees as wat hulle getel het, maar hulle volstaan by die feit dat die bevolking van albei spesies drasties afneem.

Hul fokus was veral op die suidelike dele van die wildtuin omdat dié gebied die belangrikste habitat van renosters vorm.

Volgens die 2017-sensus was daar 5 150 witrenosters in die wildtuin.

Dit beteken dus dat daar van 2017 tot 2018 moontlik 1 034 witrenosters gestroop of aan natuurlike oorsake dood is.

In 2017 was daar sowat 507 swartrenosters teenoor die 291 in 2018.

Phaahla sê renosterstropery in die wildtuin kon baie erger gewees het as die owerheid nie die teenstropingsinisiatiewe ingestel het nie.

Die tempo waarin renosters van 2017 tot 2018 gestroop is, word op 7% geraam. Sonder die teenstropingsinisiatiewe sou dit na raming tussen 20% en 25% gewees het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.