Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Renosters onthoring om stropers vry te spring

Vir Suid-Afrikaners mag die staat van inperking dalk soos ’n straf voel, maar dit was tot onlangs toe vir die renosters in Limpopo se private wildparke ’n welkome blaaskans van die stropers af.

Die stropery het egter weer in die afgelope tien dae begin, sê Harriet Nimmo, ontwikkelings-en-kommunikasiebestuurder van Rhino Revolution, ’n organisasie sonder winsbejag wat help om renosterstropery te bekamp.

‘n Renoster van die Thorny Bush Lodge in Limpopo se horing word met ’n kettingsaag afgesny. Foto: Wild Shots Outreach

Omdat die stropers nou weer doenig raak, het dié organisasie gehelp om nege renosters van die Thorny Bush Lodge Vrydag te onthoring, en Nimmo sê talle ander wildplase het hulp gevra om hul renosterbevolking te bewaar.

“Toe die staat van inperking ingestel is, het die private parke in die groter Krugerwildtuin-gebied hul inkomste uit toerisme verloor.

Aanvanklik was daar ook geen stropery nie, maar namate die regulasies verslap is en mense meer kon rondbeweeg, het die pogings om die diere te stroop in die laaste tien dae weer opgevlam.

Omdat die lodges ook tans geen inkomste uit toerisme verdien nie, samel Rhino Revolution namens hulle geld in om die renosters te onthoring,” sê Nimmo.

Jacky Spiby, Rhino Revolution se veeartsverpleegster, ondersoek ’n renoster wat met ’n verdowingspyl geskiet is. Foto: Wild Shots Outreach

Die verwydering van renosters se horings is tans die beste verweer teen stropers.

“Dit is net baie duur en Vrydag se prosedure het ons sowat R100 000 uit die sak gejaag,” sê Nimmo.

’n Renoster moet elke twee jaar onthoring word.

Die diere word eers verdoof, dan word hulle geblinddoek en kry oorpluisies voordat die horing met ’n kettingsaag afgesny word. Die hele proses duur sowat 16 minute.

Die renoster se horing voordat dit met ’n kettingsaag verwyder is. Foto: Wild Shots Outreach
Anna Mussi, Rhino Revolution se bestuurder, by een van die renosters wat onthoring is. Foto: Wild Shots Outreach
Dr Peter Rogers, Provet se natuurlewe-veearts, maak seker dat die area waar die horing was, glad is. Foto: Wild Shots Outreach

Elke horing word gemerk en na ’n veilige plek in Johannesburg geneem.

Die organisasie het ook ’n veilige hawe vir renosterwesies, wie se ma’s deur stropers van kant gemaak is. Hulle bedryf ook ’n uitreikprogram aan kinders om hulle oor renosters op te voed.

Die organisasie is van skenkings afhanklik en enigeen wat wil bydra, kan sy webtuiste by www.rhinorevolution.org besoek.

Meer oor:  Limpopo  |  Onthoring  |  Renosters  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.