Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Renosterwesie gered nadat sy ma gestroop is

Met roofdiere op sy spoor het ’n renosterkalfie minstens twee dae lank verward in Jock Safari Lodge se konsessie in die Krugerwildtuin rondgedwaal nadat sy ma vermoedelik gestroop is.

Jock Safari Lodge is ’n private konsessie en beslaan sowat 6 000 ha in die suide van die wildtuin. Diere beweeg vryelik tussen dié gebied en die wildtuin.

Volgens Louis Strauss, direkteur en bestuurder van Jock Safari Lodge, is daar Maandag op twee gestroopte renosters afgekom. Die kalfie is Dinsdag deur ’n lid van die Jock Environmental Monitoring Unit (JEMU) opgemerk, maar hy was te ver van die twee karkasse om daarmee verbind te word.

’n JEMU-veldwagter by die renosterkalfie wat gered is. Foto: Facebook / Jock Safari Lodge

Woensdag is Sanparke se helikopter vroegoggend ingespan om met die soektog te help, maar hulle kon nie die kalfie kry nie.

“Wat hulle wel gesien het, was nóg twee renosterkarkasse, waarvan een waarskynlik die kalfie se ma was,” sê Strauss.

Die karkasse was net oorkant die pad wat die konsessie van die Krugerwildtuin skei.

Teen sononder is die kalfie weer gesien, maar dit was te laat om die helikopter uit te roep.

“Hy was baie senuagtig en het begin rondtrippel en die bosse ingedraf. Toe hy in die bosse gaan staan, kon ek hoor hoe hy na sy ma roep,” sê Strauss.

“Donderdag is ons weer vroegoggend uit om sy spoor te volg, sodat ons vir die helikopter ’n goeie aanduiding kon gee. Ons het seker so ’n uur lank sy spoor gevolg en was in ’n stadium bekommerd, want daar was volgens die spore eers ’n hiëna en toe ’n leeu wat agter hom aangeloop het.

“Toe dit lig genoeg was, kon ons vir die helikopter nuwe koördinate gee. ’n Veldwagter van die wildtuin en ’n veearts het saamgevlieg. Hulle kon hom verdoof, stabiliseer en na Care for Wild neem,” sê hy.

Care for Wild is ’n toevlugsoord waar kalfies versorg word totdat hulle na ’n nuwe tuiste verskuif kan word.

Louis Strauss van Jock Safari Lodge by die renosterkalfie wat gered is. Foto: Facebook / Jock Safari Lodge

Volgens Strauss is die kalfie in ’n goeie fisieke toestand.

“Ek dink hy het ’n goeie kans om dit te maak. Ek het al ’n paar renosterkalfies gekry en hy het beter gelyk as van die ander. Soms word hulle deur hiënas gebyt of selfs deur die stropers seergemaak, maar buiten ’n paar skraapmerke, het hy geen ernstige wonde nie.”

Die kalfie is vermoedelik sowat agt maande oud.

“Hulle bly tot twee en ’n half jaar saam met hul ma’s, so hy is nog ’n babatjie. Hy sou dit nie op sy eie in die veld gemaak het nie. Hy is gelukkig dat hy oorleef het totdat ons hom kon kry,” sê Strauss.

“Dis vir ons belangrik om soveel as moontlik renosters te red. Mense moet ook parke, reservate en organisasies soos Care for Wild ondersteun.

Mense moet besef renosterhorings het nie medisinale waarde nie. As daar nie ’n aanvraag was nie, was daar nie stropery nie. Dis alles so onnodig.

“Met die Covid-19-pandemie is daar nie meer baie geld in toerisme nie en die meeste teenstropery-operasies word deur toerisme geborg. Ons het ’n groot knock gevat. Sanparke moet ondersteun word sodat hulle nog veldwagters kan kry en hulle beter kan toerus,” sê hy.

Opvoeding bly egter die grootste probleem.

“Mense moet besef renosterhorings het nie medisinale waarde nie. As daar nie ’n aanvraag was nie, was daar nie stropery nie. Dis alles so onnodig.”

Ike Phaahla, woordvoerder vir Sanparke, het die voorval bevestig en sê dit gaan goed met die renosterkalf.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Gered  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.