
Rietvlei se nuwe renosterkalf word nog baie goed deur sy of haar ma versteek. Foto: Verskaf
Die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria se nuutste inwoner gaan nog ’n ruk lank naamloos wees, want dié witrenosterkalf word so goed deur sy of haar ma versteek dat die kalf se geslag nog nie bepaal kon word nie.
Volgens Dana Wannenburg, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur in die Tshwane-metroraad, is die renosterkoei India op 28 Maart vir die eerste keer saam met haar nuwe renosterkalf opgemerk.
Die kalf was toe vermoedelik rondom vier dae oud. Die natuurbewaarders wil India nou kans gee om ’n band met haar kalf te vorm.
“Ons wil hulle nie nou pla en onnodige stres op die kalfie plaas nie,” sê Wannenburg.
India is in 2011 vanaf die Hluhluwe-iMfolozi-natuurreservaat in KwaZulu-Natal in Rietvlei hervestig. Haar eerste kalf is in 2014 gebore en Maart se aankomeling is haar vierde kalf.
Rietvlei het ook in Maart 2020 ’n renosterkalf verwelkom toe die witrenoster Pippa se kalf, Zola, gebore is.
Die reservaat huisves drie lede van die sogenaamde Groot Sewe: renosters, buffels en jagluiperds. Die renosters word onthoring as een van talle metodes om hulle teen stropers te beskerm.
Volgens Wannenburg maak Rietvlei ook gereed om sy leeubevolking te hervestig.
“Ons het prooidiere nodig om die ander diere se getalle onder beheer te hou en die biodiversiteit te beskerm. Rietvlei moet omtrent 50 buffels skuif, want die bulle raak nou moeilik,” sê hy.
“Ons diere leef so goed en word so goed versorg in daai natuurreservaat. Ons sit op die oomblik met die grootste buffel- en elandtroppe in ’n stedelike reservaat. Die leeus en jagluiperds is dus belangrik.”
Vier leeus se verminkte karkasse is in Oktober 2019 in Rietvlei gevind. Hulle is vermoedelik vir moetie gestroop.
Wannenburg sê die veiligheid en sekuriteit word nou vir die nuwe leeus opgeskerp en die plan is dat bewaarders permanent by die leeukamp sal wees. Verdere besonderhede sal later bekendgemaak word.