Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Riool maak skuim op Vaalrivier by Parys’
Jongmense roei met ’n kano op die erg besoedelde Vaalrivier by Parys. Foto’s: Saal de Jager

’n Inwoner van Parys in die Vrystaat is woedend en raadop met die Emfuleni- plaaslike owerheid, omdat miljoene liter rou rioolafval “skuimbolle en opdrifsels” op die Vaalrivier veroorsaak wat by dié vakansiedorpie verbyvloei.

Volgens Saal de Jager, inwoner van die dorp, is die toestand van die Vaalrivier by Parys “skokkend” en is dit besig om toerisme op dié dorpie dood te maak.

Boonop is Parys se inwoners van die Vaalrivier vir hul drinkwater afhanklik.

Die mense is te bang om die water uit hul krane te drink omdat die bron van die water erg onder rioolbesoedeling deurloop. Dié wat dit kan bekostig, koop water, maar duisende arm inwoners van Tumahole is genoodsaak om kraanwater te drink.

Volgens hom is daar mense wat van voortdurende maagpyn kla, hoewel die verband hiermee met die water nog nie bewys kon word nie.

“Dit is veral ook ontstellend dat sommige inwoners van die omgewing steeds probeer om vis uit die Vaalrivier te vang.”

Intussen het die bewaringsgroep Save the Vaal (Save) Woensdag in ’n verklaring gesê rou riool loop nou reeds die afgelope maand deurlopend vanaf die Sebokeng-rioolwerke tot in die Rietspruit. Dan loop dit deur die Rietspruit tot in die Loch en vloei af Parys toe. Dit vloei ook deur die Vredefortkoepel tot in die Oranjerivier.

Maureen Stewart, woordvoerder van Save, het gesê die belangrikste oorsaak vir hierdie “onverkwiklike” situasie, is die feit dat mense wat werk soek, die Sebokeng-rioolwerke tot stilstand gedwing het. Werkers van die rioolaanleg word geïntimideer en gekeer om by die hekke in te gaan.

Volgens Stewart het Emfuleni ook nie diesel beskikbaar vir voertuie om uit te ry na plekke waar rioolpompe gebreek en mangate verstop is nie.

Sy het gesê buiten dat rou riool uit die Rietspruit in die Vaalrivier beland, loop dit ook deur stukkende pompe in die Klipspruit in. Hier loop die rou rioolafval by Drie Riviere in die Vaalrivier in.

Skuimbolle wat deur rioolafval veroorsaak word, dryf op die Vaalrivier by Parys.

Volgens De Jager het bloed van die slagpale buite Parys Woensdag ook in die Vaalrivier geloop nadat vandale die kragopwekkers in die rivierpompstasie probeer steel het. Hulle het ook van die slagpaalpompe probeer steel. Dit het daartoe gelei dat die bloed van die slagpale nie deur die aanleg verwerk kon word nie.

Ntoampe Thobela, tegniese direkteur by die Ngwathe- plaaslike owerheid, het gesê “sover my kennis strek”, was die water in Parys se krane die vorige dag (Dinsdag) nog “drinkbaar en veilig”.

Hy het egter onderneem om ondersoek na die kwaliteit van die drinkwater in te stel.

De Jager het gesê die watersuiweringsaanleg by Parys kan beslis van die water skoonmaak, maar hoe doeltreffend dit is, word betwyfel.

“As dié waterbron só besoedel is soos nou, bestaan daar ’n groot risiko dat dit nie veilig is nie.”

Hy het gesê die watersuiweringstelsel kan nie hormone en swaar metale uit die water haal nie.

Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni- plaaslike owerheid, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Boniface Mazilazila, woordvoerder van die ANC in Sedibeng, het in ’n verklaring gesê ingrypende planne word tans gemaak om die plaaslike owerheid reg te ruk.

Die Gautengse wetgewer het Emfuleni onlangs onder gedeeltelike administrasie geplaas.

Stewart het gesê sowel die departement van water en sanitasie as die Gautengse wetgewer is deeglik bewus van die krisis, maar niemand het nog opgetree om die situasie reg te stel nie.

Stewart het gesê Save is baie bekommerd oor die ernstige gesondheidsgevare wat die Vaalrivier se water vir mens en dier inhou.

Meer oor:  Saal De Jager  |  Parys  |  Vrystaat  |  Riool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.