Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Rioolvuil uit Vrystaat op pad na Vaal

Groot kommer bestaan oor gerugte dat al die onverwerkte rioolvuil van Bethlehem se 20 000 inwoners net so in die Jordaanrivier gepomp word. Daar is glo sprake dat selfs die siwwe verwyder is.

Die besoedelde Jordaanrivier se water beland uiteindelik in die Vaalrivier.

Isolde Laesecke, ’n gemeenskapsleier in die dorp, sê sy was Vrydag by die dorp se hoofaanleg en daar was geen munisipale werker in sig nie. Van die vier pompe werk net een, maar dié is al oud en word soms dae lank afgesit omdat dit oorverhit.

“Die onverwerkte rioolvuil stroom direk in die Jordaanrivier,” sê sy.

Tshediso Maitse, munisipale woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit, ontken dit en sê die rioolaanleg werk. Sekere dele word tans oorgedoen om te verseker dat die aanleg behoorlik in stand gehou word. Dié opknappingswerk sal glo teen Oktober 2020 voltooi wees.

Maitse sê die water wat by die aanleg in die rivier vloei, is behandelde water soos deur die wet voorgeskryf.

Laesecke sê op haar beurt die rivier word ook oral in die dorp besoedel waar van die kleiner pompstasies nie werk nie en die rioolvuil dan in die rivier inloop.

Sy sê ’n nuwe pompstasie in die La Provance-woonbuurt het uitgebrand nadat ’n gebarste rioolpyp toegedraai moes word. Die werkers het die rioolwater afgesny, maar nie die pomp afgeskakel nie. Dit het daartoe gelei dat dit uitgebrand het.

Laesecke sê die gemeenskap het tien jaar lank gebaklei vir die nuwe, groter pompstasie wat nou stukkend is, net vyf maande nadat dit geopen is. Die ouer stasie word weer gebruik, maar dié is te klein om al die riool weg te pomp.

Die besoedelde rivier loop deur die dorp, die voëlpark en die Pretoriuskloof-natuurreservaat, sê sy.

Die gholfbaan word ook met rioolvuil oorstroom.
Rioolvuil kan gesien word waar dit op die Jordaanrivier dryf.
Onverwerkte riool loop by Bethlehem in die Jordaanrivier in.

’n Deel van die plaaslike gholfbaan word volgens haar ook gereeld met rioolvuil oorstroom.

Laesecke sê sy en ander gemeenskapsleiers stry nou al langer as ses jaar om die Jordaanrivier skoon te hou.

“Die Liebenbergrivier word net so besoedel omdat die Bohlokong-township se rioolstelsel ook swak onderhou word. Onverwerkte rioolvuil peul oral by mangate uit en vloei na die rivier,” sê sy.

Daar is drie probleme hier, baie mense is onbevoeg, ander stel nie belang om te werk nie en diegene wat wel hul werk wil doen, het nie die toerusting nie, sê sy.

Die Liebenbergrivier en die Jordaanrivier sluit albei by die Wilgerivier aan wat weer by die Vaalrivier aansluit. Almal is bekommerd oor die besoedeling van die Vaalrivier, maar die probleme begin reeds by dorpe soos Bethlehem.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Isolde Laesecke  |  Vrystaat  |  Rioolkrisis  |  Rioolvuil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.