Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Riviere kom af ná nóg goeie reën in Noord-Kaap

Angel Kordom (8) kyk hoe haar sussie, Kaylene Kordom (12), en haar maatjie, Whitney Mouers (14), Dinsdagoggend in ’n driffie by Eksteenskuil naby Keimoes in die water baljaar. Die droë loop het Maandagaand in ’n rivier ontaard nadat goeie reën in die Boesmanland uitgesak het.Foto: Anena Burger
Jaco Marais en sy dogter, Inge (8), is verheug oor die 42 mm reën wat op hul plaas in die Kalahari uitgesak het.Foto: Liz-Mari Marais

Goeie reën het wyd in die noorde en noordooste van die Noord-Kaap, insluitend die Kalahari, geval en Dinsdag het dit ook steeds in Kimberley, Warrenton en die Vaalharts-skema gesous.

Riviere in die Boesmanland het afgekom toe meer as 36 mm Maandagmiddag in die Kenhardt-distrik uitgesak het.

By Eksteenskuil naby Keimoes het kinders uit pure vreugde Dinsdagoggend vroeg al in ’n driffie baljaar.

Die hitte en humiditeit het mense die afgelope week laat sweet en die reën was nie net ’n welkome lafenis nie, maar ’n reddingsboei vir honderde veeboere.

Op Jaco en Liz-Mari Marais se plaas tussen Askham en Vanzylsrus is 42 mm gemeet.

“Dit voel ek kan huil,” sê Liz-Mari met groot verligting.

By Sarel en Elmari Burger, ook van die Kalahari, het sowat 66 mm reën uitgesak.

In die Kgalagadi-oorgrenspark, wat oor die afgelope weke reeds goeie reën gekry het, het nog 52 mm geval.

In die omgewing van Kuruman en Kathu het meer as 100 mm deur die nag geval.

Izak du Plessis, joernalis en aanbieder van Nuuspod, sê Warrenton se sokkerveld is nou reg vir ’n potjie waterpolo “ná 40 dae en 40 nagte se reën in een dag”.

Warrenton se sokkerveld is onder water.Foto: Izak du Plessis

In Putsonderwater het boere reeds Maandagaand al kniediep in die water gestaan.

“Ons is net ongelooflik dankbaar vir elke druppel reën,” sê Joandre Nel.

Boere van Pofadder, Loeriesfontein en die verre suide van die Noord-Kaap, plekke soos Calvinia en Sutherland, is egter teleurgesteld. Die tropiese stelsel wat vir die reën verder noord sorg, het so verswak dat minder as ’n millimeter tot geen reën hier aangeteken is.

“Dit was uiters belangrik vir die Pofadder-boere om nou reën te kry. Dit kon die verskil tussen lewe en dood gebring het – tou opgooi of voortgaan,” sê ’n moedelose Retha Hayes Compion, ’n boervrou van Pofadder.

Schalk Kunz, ’n boer van Kenhardt, sê hoewel die reën wonderlik is, beteken dit geensins dat die droogte gebreek is nie.

“Daar is nog ’n lang pad na herstel en nog baie reën is nodig.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Landbou  |  Reën  |  Droogte  |  Verligting  |  Riviere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.