
Wayne Lotter se vrou, Inge, en tweelingdogters, Tamsin en Cara-Jane, by die olifantbul, Wayne. Foto: Verskaf

Die reddingspan moes vragmotors gebruik om die olifante, wat uit die heinings van ’n reservaat gebreek het, te skuif. Foto: Verskaf

Die reuse-poot van ’n olifantbul wat amok gemaak het op vrugteplase tussen Hoedspruit en Phalaborwa in Limpopo. Foto: Verskaf
Drie olifantbulle is gered van ’n seker dood nadat hulle skade aangerig het in ’n veselperskeboord wat aan die Krugerwildtuin grens.
Die olifante het deur die heinings van ’n private reservaat gebreek en in die boorde beland, asook in ’n informele nedersetting daar naby.
Luidens ’n verklaring van die bewaringswebtuiste Conservation Action Trust is ’n reddingspoging deur die organisasie Elephants Alive begin nadat hulle ’n oproep ontvang het van Hoedspruit se plaaspatrollie.
Die olifante het uit wildreservate tussen Hoedspruit en Phalaborwa in Limpopo ontsnap.
Die olifante het aanvanklik naby die Hippo Pools-oord naby die Olifantsrivier gestap, maar het gou daarna begin met nagtelike soektogte vir vrugte waar hulle buurplase se infrastruktuur beskadig het.
Olifante wat uit reservate ontsnap en landerye beskadig, word deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit beskou as kwaadwillige diere wat beteken boere in die omgewing kan aansoek doen om hulle van kant te maak.
“Ons moet die boere bedank vir hul geduld en sorg vir die olifante,” sê dr. Michele Henley, Elephants Alive se uitvoerende hoof.

’n Hyskraan is gebruik om die drie olifante op die vragmotors te laai. Foto: Verskaf
Sy sê Elephants Alive se doel is om te wys dat sulke “kwaadwillige diere” soms net rondloop op soek na nuwe gebiede in dele wat onderhewig is aan grootskaalse ontwikkeling en is nie noodwendig kwaadwillig van aard nie.
“Elephants Alive ondersteun die insameling van kennis oor olifante wat in die gebied rondbeweeg. As mense moet ons verder dink en meer deernis wys en dalk sal ons die wysheid van hierdie avontuurlustige bulle verstaan,” sê Henley.
Die olifante is verdoof en veilig na die Balule-natuurreservaat geneem onder beheer van dr. Ben Muller, ’n wildveearts.
Die drie is genoem Wayne, Derek en Lotter ter nagedagtenis aan Wayne Lotter, ’n vennoot van Elephants Alive wat verlede maand in Tanzanië vermoor is. Wayne se tweede naam was Derek.
Die reddingspan is vergesel deur Lotter se vrou, Inge, en haar tweelingdogters, Tamsin and Cara-Jane.
“Die reddingspoging was moeilik om uit te voer, maar te danke aan almal se harde werk is die avontuurlustige olifantbulle veilig,” sê Henley.
Hyperlink na Conservation Action Trust: