Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Rondloper-ollie se pote jeuk nie meer by nuwe tuiste

Die olifant wat twee keer binne twee weke by ’n Oos-Kaapse privaat wildplaas uitgebreek het, het nog geen teken van jeukvoete by sy nuwe tuiste getoon nie.

’n Skermgreep van die voormalige Blaauwbosch-olifant wat sy eerste tree by sy nuwe tuiste op die Mount Camdeboo-wildplaas gegee. Foto: Skermgreep/Facebook/The Aspinall Foundation

Harry, soos die olifant nou heet, verken nou al twee dae lank sy nuwe huis by die Mount Camdeboo-wildplaas, oos van Graaff-Reinet in dié provinsie.

Die olifantbul het opslae gemaak toe hy die heinings van Blaauwbosch-wildplaas, langs die R75 tussen Wolwefontein en Kleinpoort, platgetrap en elke keer sowat 5 km daarvan tot by die Mon Desir-wildplaas gestap het.

Sy rondlopery het daartoe gelei dat die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme ’n permit uitgereik het om hom van kant te maak. Bykans oornag het kundiges, nieregeringsorganisasies en die eienaars van Blaauwbosch, Mon Desir en Mount Camdeboo-wildreservaat egter saamgewerk om die olifant uit die geweer se visier te hou.

“Binne 24 uur het ons ’n permit gekry om die olifant te kan skuif,” het Iain Buchanan, eienaar van Mount Camdeboo, verbaas gesê.

Dié wildplaas het in Mei vir die eerste keer in meer as 200 jaar weer olifante verwelkom – ’n trop met drie volwasse olifantkoeie en drie jong bulletjies.

“Ons was juis op soek na ’n volwasse olifantbul, maar kon nie dadelik een kry wat sou inpas nie. Tot ek die inligting van Blaauwbosch se olifant ontvang het.”

Buchanan sê hy het dadelik weggespring en die olifant se geskiedenis bestudeer en het hul dieregedragskundige na Mon Desir gestuur om die olifant waar te neem.

Harry die rondloper-olifant word versigtig op die vragmotor gelaai waarmee hy na sy nuwe tuiste vervoer is. Foto: Facebook/Mount Camdeboo

“Alles het goed gelyk. Ons speel immers almal ’n rol in bewaring, waar niemand van ons wil sien dat ’n dier onnodig van kant gemaak word nie. Daarom het ons besluit om aansoek te doen vir die permit en binne 24 uur het ons dit gekry.”

Die olifant is Dinsdag deur ’n veearts vanuit ’n helikopter met ’n verdowingspyl geskiet en met ’n vragmotor na die Mount Camdeboo-wildplaas vervoer.

Ná ’n rit van sowat drie uur is die olifant weer wakker gemaak, waarna hy rustig sy nuwe tuiste ingevaar het.

Brett Mitchell, ’n olifantkenner van die Elephant Reintegration Trust wat ook by die hervestiging van Harry betrokke was, sê die olifant het tot dusver goed in sy nuwe omgewing aangepas. Hy glo die olifant sal binne die volgende paar dae kontak maak met die res van die olifante op die wildplaas, maar vir eers verken die olifant sy onmiddellike gebied.

“Volgens die (satellietopsporingshalsband) is die olifant nie ver van die res van die trop nie. Sodra die olifant meer gevestig voel, sal hy die gebied rondom hom gaan verken.”

Volgens Buchanan dui die satellietopsporingshalsband aan dat Harry redelik langs die grensheining boer.

“As hy wou uitbreek, sou hy beslis teen nou al probeer het. Maar hy het nie, so ons glo dit is ’n goeie teken.”

Buchanan sê Harry pas goed in by hul plan om ’n lewensvatbare teeltrop van olifante op die wildplaas te begin en hy glo die olifante sal nog ’n lang en gelukkige lewe saam geniet.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Oos-Kaap  |  Olifant  |  Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.