Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Ruolie loop in rivier naby hawe

Meer as 40 000 liter ruolie het sedert Dinsdag glo weens “sabotasie” of “vandalisme en diefstal” uit ’n ou oliepypleiding van Transnet in die Umbilo­rivier in die suide van Durban geloop.

Tientalle skoonmakers probeer nou onverpoos om die ru-olie op te vang en te verhoed dat dit in die Durbanse hawe en die oop see beland.

Tajuna Naidoo, waarnemende hoof van Transnet, skryf dié lekkasie aan brandstofdiefstal en vandalisme toe.

Nomusa Dube-Ncube, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, bestempel dit as “ ’n omgewingsramp weens sabotasie”.

Omgewingsorganisasies in Durban-Suid sê dié spesifieke pypleiding moes al in 2008 uit diens gestel gewees het. Hulle wil by Transnet weet waarom daar ruolie in die pypleiding was en dit nog nie toegemessel is nie.

’n Visvanger sit op ’n stomp naby die hawe. Die vlak wat die oliestor­ting in die Umbilorivier bereik het, is duidelik op hierdie stomp sig­baar.

Die Suid-Durban-omgewingsalliansie (SDEA) glo nie Transnet se verduideliking dat diewe die pypleiding beskadig het om ruolie daaruit te steel nie, het Desmond D’Sa, stigter van die SDEA, gister gesê.

“Selfs diewe sal weet ’n mens kan niks met ruolie doen nie. Dít is nie brandstof nie. Ons dring aan op ’n volledige, deursigtige ondersoek na dié gebeure.

“Ons wil ook weet by watter plekke langs die pypleiding die sogenaamde diefstal plaasgevind het.”

Hy sê die SDEA kla al langer as tien jaar by die owerhede omdat die pyp nog nie afgeseël is nie.

Dié omgewingsramp is te wyte­ aan nalatigheid, sê hy.

“Ons wil sien dat mense aan die pen ry.”

Delwyn Pillay van Green­peace het gistermiddag gesê dit is skokkend om te sien hoe die bome langs die rivier en by die hawe met ruolie besmet is.

Hy sê Greenpeace en ander groepe plaas sedert 2014 druk op Transnet om oop kaarte te speel oor die instandhoudingswerk wat aan sy pypleidings gedoen word.

“Die Umbilo-omgewingsramp kom kort op die hakke van dié wat Mauritius se strande met ruolie besmeer het.

“Dit is net weer vir die mensdom ’n bevestiging van hoe gevaarlik die vervoer van fossielbrandstowwe is.

“Greenpeace dring daarop aan om ten volle ingelig te word oor die rehabilitasie van die Umbilorivier.”

Intussen het die organisasie Vuma Earth met ’n bewusmakingsveldtog oor die toestand van die Umbilorivier begin en sê hy dring daarop aan dat die rivier behoorlik gerehabiliteer word.

Vuma Earth sê nywerhede en veral die tekstielbedryf stort gereeld rioolvuil en giftige afval in die rivier. “Dít moet nóú ophou”, sê Vuma Earth.

Nathi Olifant, Dube-Ncube se woordvoerder, sê dit is onmoontlik om nou die omvang van die omgewingskade te bepaal. Volgens hom het meer as 40 000 liter ruolie uit die pypleiding gestroom.

“Die LUR het Transnet opdrag gegee om daagliks ’n vorderingsverslag aan haar te gee.

“Sy wil oor 14 dae ’n volledige verslag oor die omvang van die omgewingskade op haar lessenaar hê,” sê Olifant.

Dube-Ncube sê die diewe moes “baie goed opgelei gewees het” om die pypleiding so te beskadig omdat dit meer as 2 m onder die grond se opper­vlak lê.

Sy het Transnet geloof vir sy vinnige optrede om die ruolie te begin opruim. Transnet het glo die “meeste van die olie” uit die pypleiding “gesuig”.

Die Umbilorivier mond in die Durbanse hawe uit.

Transnet het op geen navrae gereageer nie.

Meer oor:  Nomusa Dube-Ncube  |  Durban  |  Vandalisme  |  Ruolie  |  Sabotasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.